Die voormalige Springbok-afrigter Heyneke Meyer het onlangs in ’n onthullende onderhoud op die joernalis Hanlie Retief se kletsprogram, ’n Halfuur met Hanlie, vertel hoe die Bokke se nederlaag by die Wêreldbeker verlede jaar nou nog by hom spook.

Hy het in Desember bedank na hewige kritiek teen onder meer sy suksesrekord.

Dié besluit was “die moeilikste besluit in my lewe”, het hy vertel. “Ek het gesê ek is daar om te dien en as mense dink ek kan nie meer dien nie, dan is ek bereid om te gaan,” het hy vertel op sy wildplaas naby Memel op die grens van Vrystaat en Kwazulu-Natal, wat hy 15 jaar gelede gekoop het.

Die Bokke se nederlaag teen Japan was die slegste dag van sy lewe, vertel hy. Hy het met elke speler gepraat na die nederlaag.

“Ek het ook elke speler laat opstaan en sê wat hulle dink was fout, waar kan ons verbeter en of hy nog vir sy land wil speel. Ek verstaan nie die woord opgee nie. Dis nie in my woordeskat nie. Ek het geglo ons kan die All Blacks wen tot die einde nog.”

Dit het egter nie gebeur nie.

“Ek weet die media het ’n baie donker prentjie geskep, maar wat vir my ongelooflik is, is waar ons ook in Suid-afrika gaan – en ek raak emosioneel as ek dit sê – dra die mense my op die hande.

“Ons het teen ’n goeie span verloor en ’n mens moet partykeer kan verloor ook,” sê hy.

“Ek wil dit nie eintlik sê nie, maar miskien moet ek dit maar sê: ’n Ou is baie gekritiseer vir transformasie, ’n ding wat vir my totaal totaal oorweldig het. Ek het vakansie gehou in die Wes-Kaap en die mense van kleur het my nog meer op die hande gedra en ek dink hulle is partykeer meer vergewensgesind.”

En hoe het hy staande gebly toe mense wou hê sy kop moet rol?

“Daai tyd was eintlik vir my maklik gewees. Dit klink nou arrogant. Dit was nie vir my so moeilik nie,” het hy aan Hanlie vertel. “Ek was meer teleurgesteld in myself omdat ek geweet het ons kan die Wêreldbeker wen. Dinge het nie uitgewerk soos dit moes nie. Mens kan baie verskonings maak.

“Ek is nie hier om mense sleg te sê nie. Dis rerig nie my doel nie. Al wat ek wel kan sê is ek dink nie ’n mens besef hoe moeilik is dit polities van die veld af nie. Ek praat van rugby-politiek. Dis bitter moelik. En ek dink dit gaan die groot challenge wees vir die volgende afrigter, want sonder om verskonings te maak en mense sleg te sê.

“Ek dink nie mense besef hoe moeilik is dit vir die nasionale afrigter nie. Daar is dinge buite sy beheer, dinge van die veld af.”

Daar word wyd gegis dat die volgende afrigter die Stormers-breier, Allister Coetzee, gaan wees. Luidens berigte word die finale aankondiging rakende dié gesogte pos vandeesweek gemaak.

Intussen se Heyneke sy vrou, Linda, is sy rots en hy geniet dit om gehaltetyd met sy gesin deur te bring. Die pa van drie seuns vertel: “Sy spot altyd. Sy sê toe ons ontmoet het was ons 15,16 en toe het ek gesê rugby kom altyd eerste, tweede en derde en dan sy maar ek dink dis nou omgedraai. Sy kom nou eerste, tweede en derde en dan rugby.”

Hy is trots Suid-Afrikaans en is positief oor die Bokke. “Ek dink as Suid-Afrika die stelsel reg kry kan ons onoorwinlik wees. Ek dink die sisteem is alreeds beter as wat dit was. Maar daar is nog baie werk wat voorlê.”

— Lara Atson