ONTLEDING
Die ANC se neerlaag in Johannesburg kan nie oorskat word nie. Die simboliese impak daarvan is eksponensieel groter as die verliese van die metrorade van Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth) en Tshwane (Pretoria) omdat die Goudstad die middelpunt van die struggle was.

[caption id="attachment_134689" align="alignnone" width="600"]"Stad Johannesburg", buite die brandweerstasie in Brixton, Johannesburg. Foto: Pieter du Toit "Stad Johannesburg", buite die brandweerstasie in Brixton, Johannesburg. Foto: Pieter du Toit[/caption]

Pretoria was in die apartheidsjare die gehate simbool van wit heerskappy en baasskap – ANC-leiers het vandag steeds nie ’n erg aan die stad nie en sien dit suiwer as die land se administratiewe hoofstad. Daar’s nie ’n emosionele band nie. Port Elizabeth is dalk ’n ander saak; dis die tuiste van gevierde ikone soos Govan Mbeki en Raymond Mhlaba, maar dit was nie in die hoofstroom van die vryheidstryd nie.

Johannesburg, eGoli, die Stad van Goud is egter ’n heel ander saak. Dis waar die Vryheidsmanifes in 1955 geskryf is, Nelson Mandela en Walter Sisulu hul regspraktyk gevestig het en waar Liliesleaf, die verbande MK, se hoofkwartier was.

Sophiatown, ’n smeltkroes van mense en fortuinsoekers en aktiviste, was in die 1950’s ’n bestemming vir baie, terwyl Soweto die simbool van swart verset geword het. Swart arbeiders kon hulself vir die eerste keer wettig hier in vakbonde organiseer en ANC-leiers het daar hul tande met onderhandelings gesny.

[caption id="attachment_134690" align="alignnone" width="600"]Chancellor House, die kantore van die regsfirma Mandela-Tambo, oorkant die landdroshof in Johannesburg. Foto: Pieter du Toit Chancellor House, die kantore van die regsfirma Mandela-Tambo, oorkant die landdroshof in Johannesburg. Foto: Pieter du Toit[/caption]

Johannesburg was die plek waarheen duisende mense oor dekades heen gestroom het om by die ANC aan te sluit, ’n lewe te maak en die land te probeer verander. Enigiets is in dié stad moontlik. Dis ook die plek waar die staatsmasjinerie en die bevrydingsbeweging die hardste gebots het: Sharpeville in 1960, Soweto in 1976 en die talle mense wat in aanhouding in die berugte John Vorster-plein-polisiekantoor dood is.

Die wydverspreide geweld in die aanloop tot 1994, insluitend Boipatong en die Shell House-skietery, het Johannesburg die fokuspunt gemaak terwyl onderhandelings aan die Oos-Rand plaasgevind het. En ná 1994 is besluit om Johannesburg, en nie Pretoria nie, die hoofstad van die nuwe Gauteng-provinsie te maak. Die ANC se hoofkwartier was daar en Mandela (en elke president daarna) se huis was daar.

En nou is die stad verlore – die gevolg van ’n regerende party wat gereken het hy is verhewe bo die gevolge van wanbestuur, korrupsie en ’n Trump-agtige staatshoof. Parks Tau, tot gister nog die ANC-burgemeester, het ’n moedige stryd gevoer. Hy het die afgelope jare hard gewerk om die gemors op te ruim wat sy voorganger, die onbeholpe Amos Masondo, agtergelaat het. Die rekeningkrisis is tot bedaar gebring, City Power is gestabiliseer en skoonmaakdienste het verbeter.

Ongelukkig is die munisipale verkiesingsveldtog nie gevoer op plaaslike kwessies soos rommel en slaggate nie, maar nasionale kwessies: pres. Jacob Zuma se afdanking van die finansminister in Desember 2015, die konstitusionele hof se uitspraak oor Nkandla, die Guptas en staatskaping en die herinstel van korrupsieklagte teen die ANC-leier was die gonskwessies. En Tau die slagoffer.

[caption id="attachment_134691" align="alignnone" width="600"]Art deco-geboue in die Johannesburgse middestad, neffens Anglo American se hoofkantoor. Die Goudstad was die middelpunt van die struggle. Foto: Pieter du Toit Art deco-geboue in die Johannesburgse middestad, neffens Anglo American se hoofkantoor. Die Goudstad was die middelpunt van die struggle. Foto: Pieter du Toit[/caption]

Die verlies van Johannesburg is saam met die nederlae in Pretoria en Port Elizabeth so naby aan doodskote vir die ANC as kan kom. Daardie metro’s, saam met die DA-beheerde Kaapstad, is die hartklop van ons samelewing: Dit dryf die ekonomie, rig die politieke lewe en is waar die burgerlike samelewing floreer. Die ANC sal terugbaklei en gaan as opposisie sy institusionele kennis van daardie metro’s tot sy voordeel gebruik. Dis egter ’n gulde geleentheid vir die DA en hul vennote om die bres oop te ruk wat hulle in die ANC-verdediging geslaan het. Die skrywer en politieke ontleder Justice Malala het Maandagaand getwiet die ANC veg reeds 104 jaar om ’n veelparty-demokrasie: “Maandag het hy sy doel behaal.”

Johannesburg was die stad van hoop en drome vir die bevrydingsbeweging. Vandag is dit die stad van wanhoop en nagmerries.