WIE bestuur die beste? Vroue of mans? Jare lank het albei geslagte hul idees hieroor gehad. Nou het ’n plaaslike ondersoek die antwoord: dis vroue. En meer nog, hulle is ver beter as mans. In die navorsing is bevind vroue se bestuursvernuf is 20 persent beter as dié van die deursnee manlike bestuurder.

Langer as ’n jaar het Discovery Insure die bestuursgedrag van meer as 11 000 kliënte in Suid-Afrika se groot stedelike gebiede gemonitor. ’n Spesiale opsporingsapparaat is hiervoor in hul motors geïnstalleer. Die uitslag van die ondersoek is vandeesweek bekendgemaak.

Bestuurders is geoordeel volgens hul optrede op pad. Dit sluit in skielik remtrap, skerp draaie neem, versnelling, jaag, ongelukke en nagbestuur.

Met hierdie inligting kon Discovery ’n prentjie kry van die ideale bestuurder: Dis ’n vrou wat in Port Elizabeth woon, nie rook nie, en ’n Hyundai bestuur. Hou jou oë oop wanneer jy weer in haar buurt is, en waai vriendelik vir haar.

En as jy ’n Durbaniet in ’n Audi gewaar, ry ’n wye draai om hom. Volgens die ondersoek is mense in hierdie profiel onder Suid-Afrika se swakste bestuurders.

Hier is van die uitslae Beste bestuurders volgens stad:

  1. Port Elizabeth
  2. Kaapstad
  3. Johannesburg
  4. Pretoria
  5. Durban
Beste bestuurders volgens soort motor:
  1. Hyundai
  2. Honda
  3. Opel
Swakste bestuurders volgens soort motor:
  1. Audi
  2. BMW
  3. Mercedes-Benz
Rokers teenoor nierokers
  • Nierokers bestuur die beste.

- JANE VORSTER