Die kliniese sielkundige Mareli Fischer sê dit is belangrik dat ouers hul eie vrese oor die situasie beteuel en dit altyd met geduld en aanmoediging begroet. Dit is dalk makliker gesê as gedaan. “Dit is uiters belangrik dat die ouers ondersteunend is en die kind van ’n veilige plek voorsien; hulle moet ook aanmoedigend wees,” sê Mareli.

“Kinders in hierdie ontwikkelingsfase is besig om hul liggaam te ontdek, asook die mag wat hulle oor hul omgewing het,” voeg sy by.

Wanneer moet jy begin?

Daar is nie ’n presiese ouderdom is waarop toiletopleiding moet begin nie, maar die gemiddelde ouderdom om te begin is tussen 18 maande en drie jaar. ’n Kind jonger as 18 maande se blaas en ingewande is nog nie ver genoeg ontwikkel vir hulle om dit te beheer nie.

“Kinders verskil van mekaar; die regte tyd om te begin met toiletopleiding gaan dus van kind tot kind wissel,” sê Mareli.

“Bly kalm, en herinner jouself daaraan dat jou kind uniek is, en elke kind se ontwikkelingspad verskil.”

Wees bedag op die tekens

Daar is tog sekere tekens waarop ouers bedag moet wees. Jou kind is moontlik gereed om die doeke te los wanneer hulle:

  • belangstelling toon in die toilet gebruik;
  • onderklere bo ’n doek verkies;
  • jou in kennis stel dat hulle die toilet wil gebruik met ’n gesigsuitdrukking of deur jou na die badkamer te lei;
  • minstens twee uur of tydens slapies droog bly – dit is ’n teken dat hulle beheer het oor hul blaasspiere; en
  • woorde het vir urine en stoelgang.

Stap vir stap

Al gaan elke ouer en kind die metode vind wat vir hulle werk, is daar stappe wat jy kan volg:

  • Sit die potjie in ’n maklik bereikbare plek.
  • Moedig jou kind aan om deur die dag op die potjie te sit terwyl hulle ’n doek aanhet. Dit sal hulle aan die konsep gewoond maak.
  • Laat jou kind op die potjie sit sowat ’n uur nadat hulle iets gedrink het.
  • Probeer ’n konsekwente, voorspelbare roetine vir jou kind vasstel.
  • Sit by jou kind terwyl hulle op die potjie is.
  • Prys jou kind omdat hulle op die potjie sit, al doen hulle niks nie. Dit gaan jou kind se selfvertroue ’n hupstoot gee en hulle gaan op die potjie sit vereenselwig met ’n gevoel van prestasie.
  • Laat jou kind gereeld onderklere dra, maar hou ’n doek byderhand.
  • Moet nooit jou kind skaam maak as hulle ’n ongelukkie gehad het nie!
  • Bly kalm – dit sal ook verbygaan.

-Katlego Mkhwanazi

Ekstra bronne: babycentre.co.uk, mayoclinic.org