Die dae is lank vergete toe horde duiwe op een slag vrygelaat is om die vreugde van die oomblik oor te dra. Dit het plek gemaak vir honderde, en soms selfs duisende heliumgevulde ballone wat die lug ingestuur word.

Ongelukkig het hierdie produk wat uitbundigheid simboliseer, ’n “donker kant” waarvan min mense bewus is.

Ons het by een van die wêreld se toonaangewende inspirerende sprekers, maritieme regsgeleerde, pionierswemmer en die Verenigde Nasies se beskermheer van die oseane Lewis Pugh, gaan aanklop om meer hieroor uit te vind.

Lees ook: Geraasbesoedeling kan jou hart aantas

Die gebruik van helium is een van die “sondaars” waaroor hy hom uitspreek. Dit is die produk wat gebruik word om ballonne die lug in te stuur. Dit is ligter as lug, daarom word dit hiervoor gebruik.

“Dis ’n absolute vermorsing. Helium is ’n seldsame element en het beperkte bronne. Dit word onder meer benodig vir medisyne, tegnologie en kommunikasie. Helium kan nie vervaardig word nie.”

Boonop is die bestaande heliumvoorraad besig om leeg te te loop. Nobel-pryswenner Robert Richardson het reeds in 2010 gewaarsku dat hierdie kosbare produk hopeloos te goedkoop is en nie as die kosbare bron wat dit in wese is, respekteer word nie.

Sommige natuurlike gasse bevat wel helium, maar dit is ontsettend duur om dit uit te filtreer.

Noudat die gas uit die ballon is, wat van die ballon?

Ballonne word meesal van dieselfde plastiek gemaak as ander rommel wat deur die mensdom gestrooi word.

“Diere eet soms die ballon wat lei tot verhongering. Of dit versmoor die dier,” sê Lewis.

Selfs die stringetjies wat aan die ballonne vasgemaak is, is verantwoordelik vir talle verstrengelings en dood in die diereryk.

[post-slider]

“Die stringetjies kan tot verwurging of uithongering lei. Dit is alles uiters onaangenaam,” sê Lewis.

“Dit is ’n tragiese dood vir ’n dier, maar die grootste skade is die manier waarop rommelstrooiery in die atmosfeer, land en see genormaliseer word.

“Dit skep ’n houding van absolute minagting van die omgewing. En dit ignoreer die impak wat massa-ballonvrylatings op wild, die boere- en visserygemeenskappe het.”

“Eintlik kom die vrylating van ballonne neer op opwaartse besoedeling.”

Lees ook: Tweedehandse rook en jou troeteldier

Lewis het onlangs omstredenheid veroorsaak toe hy in sosiale media ’n veldtog geloods het om die vrylating van 10 000 ballonne as deel van ’n verwelkomingsaktiwiteit by die Universiteit Stellenbosch te verhoed.

Lewis het ook Cullinan & Associates genader om kriminele vervolging van stapel te stuur sou die massaballonvrylating voortgaan.

Benewens die betrekking van die Wes-Kaapse departement van omgewingsake, het Lewis die bank betrek wat die ballonne vir die geleentheid sou borg.

Dié betrokke bank het bevestig finansiële steun sou ingekort word as die ballonne wel vrygelaat sou word.

“Die boetes is beduidend – *tot R10 miljoen boete en/of 10 jaar gevangenisstraf. In effek sal hierdie veldtog lei tot die afskaffing van massaballonvrylatings in Suid-Afrika.”

Lewis is nie net ’n man wat praat nie; hy dóén ’n ding as hy daarin glo.

“Gedurende die feestyd het ek strandopruimingsprojekte in die Kaapstad-gebied van stapel gestuur om die publiek ook in te lig. #5MinBeachClean.

Omgewingsvriendelike oplossings om mee fees te vier

“Plant ’n boom. Blaas borrels. Hou partytjie. Speel tromme, dans en sing. Daar’s net soveel beter maniere waarop jy fees kan vier sonder om die omgewing te besoedel,” sê Lewis.

Vlae, baniere en dansende opblaasfigure kan net so prettig wees. Selfs vrolike vlieërs kan enige plesierigheid ’n hupstoot gee. Of wat van ’n wildeblom-saadbom?

Die pad vorentoe

Lewis, ook bekend as die “menslike ysbeer”, kies weer binnekort koers na Antartika in sy stryd om die Ross-see as ’n mariene-beskermingsgebied, gelykstaande aan ’n nasionale park, te laat verklaar.

“Die Ross-see is die mees-ongerepte ekosisteem wat nog op ons planeet bestaan.”

Meer oor Lewis Pugh, die menslike ysbeer.

Vinnige feite oor helium

  1. Dit is die produk wat ontstaan vanweë die verval van radioaktiewe rotse in die aardkors.
  2. Helium het ’n baie lae kookpunt wat dit ’n kragtige afkoelingsproduk maak. Dit word in sensitiewe elektroniese toerusting en supergeleiers gebruik.
  3. In die mediese veld word helium as afkoelagent/produk in MRI-skandeerders en spektrometers gebruik.
  4. Dit word ook ingespan om lekkasies in motorlugverkoelingstelsels op te spoor en om lugsakke na ’n botsing blitsvinnig op te blaas.
  5. Diepseeduikers gebruik ’n mengsel van helium en suurstof om ’n kunsmatige atmosfeer binne hul duikpakke te skep.
  6. Dis ook chemies traag en reageer nie met ander chemikalieë om nuwe samestellings te vorm nie. Daarom is helium perfek vir sweiswerk en vuurpylbrandstofstelsels waar die risiko op ontploffings en vuur hoog is.

Vinnige feite oor ballonne

    1. Michael Faraday het in 1824 die eerste rubberballon die lig laat sien.
    2. Die Britse mariene-bewaringsvereniging (MCS) het in 2011 meer as 1359 ballonne op die Verenigde Koninkryk se strande opgetel – meer as drie keer meer as wat hulle in 1996 gevind het.
    3. Gemiddeld 90-95% van ballonne wat die lug ingestuur word, sal tot ’n hoogte van 3 km styg voordat dit bars.
    4. Die grootste hoeveelheid ballonne wat ooit vrygelaat is, was 1,5 miljoen tydens 'n ballonfees in 1986 in Amerika.

Bronne: moneyweek.com, rsc.org, bbc.com, rspca.org.uk

* Die oorspronklike berig is met die jongste inligting aangepas.