Dinsdagaand het rowers weggekom met ’n geraamde R24 miljoen in wat blyk ’n goed beplande rooftog op die OR Tambo Internasionale Lughawe te wees waarby die polisie moontlik betrokke was.

Die rooftog was nie die eerste by die lughawe nie. In die tweede helfte van 2001 is $6,5 miljoen (toe sowat R56 miljoen) van ’n Swissair-vragvliegtuig en amper $10 miljoen (toe sowat R86,3 miljoen) van ’n KLM-vragvliegtuig op die lughawe gesteel. Dit het toe nog as die Johannesburgse Internasionale Lughawe bekendgestaan.

Die mees berugte rooftogte die afgelope 20 jaar

R100 miljoen

Op 25 Maart 2006 het ’n bende van 24 mans bewapen met AK-47’s R100 miljoen kontant geroof van ’n SAL-vliegtuig op die OR Tambo Internasionale Lughawe. Hulle het polisiebeamptes en wagte aangehou nadat die vlug geland het en sakke geld gesteel wat van Brittanje hierheen gevlieg is.

Later is vasgestel lughawepersoneel het dit help beplan. Ná ’n ses jaar lange hofsaak is sewe verdagtes vir hul betrokkenheid by die rooftog gevonnis.

R87 miljoen

Op die aand van 27 April 2014 het ’n gewapende bende die veiligheidswagte by ’n SBV-kontantsentrum in Witbank oorrompel en bedwelm. Hulle het ’n kluis oopgesny en R87 miljoen gebuit. Die rowers het die vier bedwelmde wagte op die Kromdraaipad gelos.

Sewentien mense is in hegtenis geneem, onder andere ’n voormalige kaptein van die Valke, SBV-werknemers en ’n polisiereservis.

R43 miljoen

’n Groep kuberkrakers het Oujaarsdag en Nuwejaarsdag in 2012 R43 miljoen uit die Postbank-stelsel gesteel. Hulle het die geld na verskeie rekenings oorgeplaas.

Een van die mans is amper twee maande later in Welkom vasgetrek. Hy het skuldig gepleit op aanklag van bedrog en is vir 15 jaar tronk toe gestuur.

R31 miljoen

In die grootste kontantrooftog in Suid-Afrika tot in daardie stadium is meer as R31 miljoen in Augustus 1996 by die SBV-kontantsentrum in Westmead, Pinetown, gesteel. Die bende het drie gewere, vier vuurwapens, twee motors, ammunisie en drie videokameras gesteel.

’n Wag het die hek vir die rowers oopgemaak en ’n ander het voorgegee hy word gyselaar gehou terwyl die veiligheidskameras buite werking gestel is.

Negentien mense, onder andere polisiemanne, SBV-wagte, ’n prokureur en talle vroue is in hegtenis geneem. Sestien is skuldig bevind.

R8 miljoen

Verlede maand het ses rowers juweliersware van R8 miljoen by ’n man gesteel kort nadat hy op die Kaapstadse Internasionale Lughawe geland het, al het vier privaat veiligheidswagte die man vergesel.

Die slagoffer het die juweliersware op ’n veiling in Johannesburg gekoop. Mans wat balaklawas op gehad het en met R4- en R5-gewere, haelgewere en pistole bewapen was, het hom en sy wagte aangeval.

’n .38 Special-rewolwer wat aan een van die veiligheidswagte behoort het, is ook gesteel. Twee gesteelde motors wat die rowers tydens hul ontsnapping gebruik het, is op die toegangspad na die lughawe teruggevind.

R3 miljoen

In 2013 het rowers hul weg tot in ’n kluisvertrek by die FNB-stadion oopgekap en R3 miljoen gesteel – die naweek se kontant-inkomste ná ’n Justin Bieber-konsert.

Beamptes meen hulle het dae lank met beitels deur die kluisvertrek se dubbel dik mure gekap en hulself 3 m ver met toue laat afsak.

FNB-kliëntkluise

Op 18 Desember 2016 het rowers ’n veiligheidswag oorrompel en ’n klophamer ingespan om 360 kliëntkluise uit die FNB-tak in Randburg te steel.

Op Nuwejaarsdag 2016 is by die FNB-tak in Parktown, Johannesburg, ingebreek en waardevolle items ter waarde van sowat R1,7 miljoen uit 30 kliëntkluise gesteel.

Langer as ’n week later is 250 van die kluise in ’n veld naby die FNB-stadion gekry.

Twee mans, Norman Moeli en Maredi Letsoalo, is in hegtenis geneem. Hul saak word in die landdroshof in Randburg aangehoor.

Bron: News24