Die Amerikaanse presidentskandidaat Hillary Clinton het ure ná sy die taai stryd teen haar teenstander, Donald Trump, verloor het, ’n emotiewe toespraak gelewer waarin sy haar landgenote aangemoedig het om hom 'n kans te gun om hulle te lei.

"Ek het gisteraand vir Donald Trump geluk gewens en aangebied om saam te werk," het sy tydens haar toespraak in New York gesê. "Ek hoop hy sal ’n suksesvolle kandidaat vir alle Amerikaners wees." Hillary het telkens tydens haar toespraak emosioneel geraak en ook erken die feit dat sy verloor het, is vir haar "pynlik". "En dit gaan nog vir ’n ruk lank pynlik wees," het sy bygevoeg.

Die voormalige presidentsvrou het ook ’n beroep op alle Amerikaners gedoen om Donald se presidentskap met ’n positiewe ingesteldheid te aanvaar, want volgens haar is die Amerikaanse droom groot genoeg vir almal.

Tog meen sy ook dié verkiesing wys wel Amerikaners is "meer verdeeld as wat voorheen gedink is".

Hillary het ten laaste haar ondersteuners bedank en gesê sy hoop Amerikaners sal hul steeds beywer om die waardes wat deur haar veldtog bevorder is, uit te voer.

Kyk hier na haar volledige toespraak: