Adriaan Strauss se besluit om eerder vroeër as later amptelik bekend te maak dat hy einde vanjaar uittree, het die beleërde Bokke se situasie nog interessanter gemaak.

A photo posted by SA Rugby (@bokrugby) on

Ons het lesers solank in ’n Facebook-peiling oor moontlike opvolgers gepols . . . en Warren Whiteley was byvoorbeeld ’n gunsteling. Maar hoe voel oudspelers oor dié bra ingewikkelde kwessie? Ook die voormalige Bokkaptein Wynand Claassen reken Warren bly ’n topaanspraakmaker. Hy was lank een van Suid-Afrika se mees onderskatte agtstemanne en as kaptein van die Lions het hy reeds gewys hy is “oopkop, spontaan, nederig en baie gewild onder sy spanlede. Hy kommunikeer ook baie goed met die media.”
Vir Wynand, self op sy dag agtsteman, is Warren ’n klassieke en eintlik meer afgeronde nommer agt as byvoorbeeld Duane Vermeulen. Sommiges voel wel Warren speel tans nie heeltemal die wêreld aan die brand soos vroeër in die Superrugbyseisoen nie, maar dit is stellig omdat die Bokke hulle nog as span moet vestig en nog aan hul spelbenadering werk, reken Wynand. “Maar Warren het al die vaardighede en eienskappe. Myns insiens moet die Bokkaptein sy rugby in Suid-Afrika speel, ook met al sy pligte weg van die veld af, en Warren is wel vir my die beste in sy posisie in die land.”

#RCT Entraînement #Duanevermeulen #ParceQueToulon #IciToutEstDifferent

A photo posted by @karo83_ on

Andersyds is Patrick Lambie losskakel van die Bokke en die Sharks, vir Wynand ook ’n sterk kandidaat. Pat het juis weer begin oefen ná sy lelike harsingskudding-terugslag teen die Iere. En kyk ’n mens nog verder vorentoe, “sal ek baie graag ’n ou soos [die losvoorspeler] Arno Botha sy volle potensiaal wil sien bereik. Net soos Handré Pollard het hy ook die Junior Bokke gelei en ook nou die Blou Bulle begin aanvoer.”
Die gevierde SA flank Rob Louw verkies ook ’n losvoorspeler as Bokkaptein. “Dus moet ’n mens na Warren kyk. Duane Vermeulen en Francois Louw is beslis ook kandidate, maar ek dink ook ons kaptein moet in SA gevestig wees. Warren is ’n uitsonderlike leier en sal net beter raak. Hy speel met baie durf en al die ander spelers het groot respek vir hom. “Maar hulle het eweneens hoë agting vir Duane en Francois. Met ons bouproses na die [2019]-Wêreldbeker-toernooi, sal Saru sekerlik sulke spelers wil terugbring, en dan kan daar opnuut na die leierskap-kwessie gekyk word . . .” ’n Perdfris en fiks Pat Lambie is vir Hugh Bladen, oudspeler, voormalige keurder en bekende kommentator, ’n gewisse kandidaat vir die kapteinskap – en hy is jonk genoeg om in twee Wêreldbeker-toernooie te speel. Dié knap strateeg is ’n speler vir die groot oomblikke en het die Bokke al by meer as een geleentheid uit ’n verknorsing gered, ook as heelagter.
’n Mens kies eers jou beste span en uit dié groep jou kaptein, benadruk Hugh. “Warren het ’n uitstekende rekord by die Lions, hy is daar ’n briljante leier na wie almal opkyk. En daar is geen rede waarom al die Bok-spelers hom nie ook sal respekteer nie. Die vraag is of hy deel van [die Bok-breier] Allister Coetzee se planne gaan bly as Duane byvoorbeeld terugkom. “Pat was sy skool se hoofseun en rugbykaptein, die Sharks het hom as kaptein aangestel, hy was reg deur sy loopbaan ’n leier. Maar die groot vraag bly staan of hy gekies gaan word . . .” Die voormalige Bokslot Kobus Wiese het ook aan Huisgenoot gesê die wyse waarop Warren as Lion sy span onder geweldige druk bymekaargehou en die spelers mettertyd week ná week help presteer het, spreek vir hom van ’n voortreflike leier.

Gary Teichmann, wat die Bokke as agtsteman gelei het toe hulle nog oorheers het met ’n rekord van 17 toetsseges agtereenvolgens, het eweneens vroeër aan ons gesê Warren is vir hom ’n voorbeeld van ’n kaptein wat alles gee; nie “flashy” nie, maar bestendig . . . en hy het “ ’n hengse werk met die Lions gedoen”.