Eintlik moet ouers die gesprek oor “die bytjies en die blommetjies” met hulle kinders voer voor hulle puberteit bereik. Maar as jy dit nog nie gedoen het nie, moet jy aan die praat raak. So ongemaklik as wat dit dalk is, kan hierdie gesprek nie aan die internet of hul tydgenote oorgelaat word nie. Dit is ’n ouer se verantwoordelikheid. En hoe vroeër dit bespreek word, hoe beter. “Ouers moet onthou daar is gedurig kommunikasie oor seks. Daar is nie ’n ‘enkele gesprek’ en dan is dit verby nie. Dit is en moet ’n gereelde gespreksonderwerp wees,” sê die kindersielkundige Christine Scolari.

Seksonderrig is nie net vir meisies nie; praat ook met jou seun

Navorsing toon wanneer seks ’n openlike onderwerp in ’n huishouding is, maak die kinders beter keuses oor seks. Die kind is minder geneig om aan gevaarlike seksuele gedrag deel te neem en sal waarskynlik langer wag voor hulle ’n seksuele verhouding aanknoop. Christine benadruk die belangrikheid daarvan om met jou kind oor seks te praat. “Ouers moet in gedagte hou dat kinders oral inligting kry. As hulle nie met hulle oor seks praat nie, kan hulle verdraaide en verkeerde inligting kry.”

As jy begin bloos by die gedagte aan ’n gesels oor seks met jou tiener, beveel Christine aan jy gebruik aansluitingspunte om die onderwerp aan te roer. “Daar sal baie geleenthede wees om die gesprek te voer, byvoorbeeld ’n sekstoneel in ’n rolprent of op televisie; dan het jy ook die volmaakte geleentheid om die kind se mening  te kry.”

Jy kan ook bykomende bronne soos tydskrifte of koerantartikels gebruik. Christine beveel aan ouers lees die artikel saam met hul kind en bespreek dit dan met hulle. Dis ook belangrik dat ouers kalm en openlik bly wanneer hulle met hul kinders oor die onderwerp praat. “Hulle (kinders) moet voel hulle kan na jou toe kom wanneer hulle raad nodig het; kommunikasie is deurslaggewend.”

Jy is hul beste voorbeeld

Vir tieners wat reeds in ’n verhouding is, moet die stel van grense en die belangrikheid van ’n liefdevolle verhouding beklemtoon word, sê Christine. “Bespreek onderwerpe soos veiligheid wanneer jy seksueel aktief is, byvoorbeeld die belangrikheid daarvan om kondome te gebruik, gepaste gedrag, veral wanneer jy sosiale netwerke of tegnologie gebruik, en die verskil tussen pornografie en seks.”

Ouers is die grootste beïnvloeders en leermeesters vir hul kinders wat seks en die lewe in die algemeen betref. So uitdagend as wat dit is, die gevolge is soms nadelig en lewensveranderend, en kan dikwels nie omgekeer word nie.

Bly gefokus

Zandie Shabangu, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, stel voor jy konsentreer op die volgende wanneer jy seks met jou tiener bespreek:

  • Manlike en vroulike voortplantingstelsels
  • Veilige seks
  • Die emosionele gevolg van seksueel aktief wees
  • Onthouding
  • Ander maniere van liefde betoon sonder om seks te hê
  • Hoe om seksuele misbruik en ander vorms van misbruik te herken
  • Die uitwerking van drank en dwelms op jou oordeel
  • Voorbehoed

Hoekom moet jy daaroor praat?

Zandie gee ’n lys van die belangrikste voordele van seksonderrig:

  • Dit help ’n gesonde houding teenoor seks aankweek.
  • Die help kinders veilige sekspraktyke leer.
  • Hulle kry akkurate inligting.
  • Hulle verstaan die moontlike gevolge van seksueel aktief wees.

Stilte kan nadelig wees

En as jy nie met jou tiener praat nie? Die nadele kan verskriklik wees:

  • Hulle is kwesbaarder vir waninligting deur tydgenote.
  • Hulle is geneig om vroeër seksueel aktief te word.
  • Hulle loop die gevaar om aan onveilige seksuele praktyke deel te neem.
  • Soms is die gevolge onomkeerbaar.

- Koketso Mashika