Minstens twee dae lank het ’n sosialemediastorm gewoed nadat ’n ma van Noordwes ’n WhatsApp-blaps begaan het – sy het ’n stoute foto na die verkeerde ontvanger gestuur en dit het uitgelek.

Memes het gevolg, soos gewoonlik die geval is wanneer die Twitter-gemeenskap van iets te hore kom. Te midde van die vloedgolf van grappe (party daarvan baie wreed), het ’n advertensie opgeduik wat skynbaar aan Nando’s behoort. Dit lui: “Margaret, ons het jou pluimvee gesien. Dis kosbaar. Vir alles anders is daar ons hoender.” Lees ook: Kan ek ’n WhatsApp-boodskap uitvee NADAT ek dit gestuur het? Intussen het die kitskosketting laat hoor hulle het absoluut niks met die “advertensie” te doen nie.

“Die Nando’s-plakkaat wat met Margaret van Wyk die spot dryf, is beslis nie ’n amptelike Nando’s-advertensie nie,” sê hulle in ’n verklaring.

“By Nando’s spot ons nie met individue wat foute maak nie, en ons is geskok oor die aanval op en kuber-afknouery van Margaret. Terwyl ons die geesdrif waardeer van aanhangers wat nabootsplakkate skep, waardeer ons nie hierdie een nie. Boonop weerspieël die plakkaat nie ons visuele identiteit nie en bevat dit nie die regte Nando’s-logo nie.”

En, soos Huisgenoot-lesers met ’n arendsoog opgelet het, is haar naam op die plakkaat verkeerd gespel.

Hier is ’n ou Nando’s-advertensie ter vergelyking.