Nico Henning mag nie met sy broer of sy een suster praat oor die saak tot hy verhoor word vir die moord op sy vervreemde vrou, Chanelle Henning, nie.

Landdros Desmond Nair het vanoggend in die Pretoriase landdroshof gesê een van die borgvoorwaardes is dat Nico nie met sy broer, Alfrancois, en sy suster Juanita oor die saak mag praat nie. Dit is omdat hulle staatsgetuies is. Nico mag wel Kersgroete aan sy broer en suster oordra, het adv. Piet van Wyk SC, Nico se regsverteenwoordiger, versoek.

Van die ander staatsgetuies met wie Nico nie mag praat nie, is André Gouws, wat Nico verlede maand in die hooggeregshof in Pretoria as die meesterbrein agter Chanelle se moord uitgewys het.

Nico mag ook nie met sy eks vrou of met Estelle Hepburn, André se eksmeisie, praat nie.

Die ander borgvoorwaardes is dat Nico twee keer per week by die polisie moet aanmeld, hy mag nie Noordwes en Gauteng sonder skriftelike toestemming van die ondersoekbeampte verlaat nie, hy moet die ondersoekbeampte in kennisgewing stel as hy met een van sy vliegtuie wil vlieg en hy mag nie naby ’n buitelandse vertrekpunt kom nie.

Dié borgvoorwaardes kom nadat Nico vanoggend borgtog van R10 miljoen toegestaan is.

R300 000 moet in kontant of per bankgewaarborgde tjek betaal word voor hy vandag vrygelaat kan word. Die res van die geld moet Nico as ’n waarborg aan die klerk van die hof gee. Nair het die datum hiervoor tot 20 Januarie uitgestel.

Dit is dieselfde dag waarop Nico weer op aanklagte van moord en sameswering tot moord sal voorkom.