.

“Kleine wonderwerkie,” het Lara se ma, Jean-Mari van Vuuren, Vrydagoggend op die Facebook-groep “Bid vir Baba Lara” geskryf.

“Volgens Lara se kardioloog het ’n wonderwerk met haar hart-PDA’s (opening in die hart) gebeur. Dis steeds daar, maar sy hoef nie nou na Chris Barnard(-hospitaal) oorgeplaas te word vir die operasie nie. Sy gaan die hartjie in dié stadium monitor en dit op ses maande herevalueer. Dis vir ons ’n ongelooflike wonderwerk en verligting,” het die inskrywing verder gelui.

Op 30 Oktober 2016 is Lara en haar twee sussies, Lily en Julia, op 26 weke gebore, het Tygerburger vroeër berig. Lily is egter op 31 Oktober oorlede en Julia op 3 Januarie 2017.

Al drie babatjies is gebore met openings in hul hart. Die toestand staan bekend as patent ductus arteriosus (PDA) en dra by tot spysverteringsprobleme en hartversaking; Lara sou daarom dringend ’n hartoperasie moes ondergaan.

Maar voor dit kon gebeur, moes sy eers groei en genoeg gewig aansit.

Jean-Mari, van Langeberg Ridge in die noorde van Kaapstad, het ’n Facebook-groep begin sodat vriende en familie saam vir Lara kan bid.