Dis ’n hondelewe op hierdie strand in Italië

Vroeër jare kon honde na hartelus op openbare strande baljaar en swem, maar met deesdae se streng regulasies is dit nie altyd moontlik vir Wagter om saam met sy baas see toe te gaan nie. As hulle dit wel doen, moet hulle gewapen wees met ’n leiband, plastieksakkie en valkoë wat seker maak hy trap in sy spoor.

Gelukkig is Italië ’n land vol hondeliefhebbers en kan honde hier kom uitspan op Bau-strand, ’n strand spesiaal vir honde.

Die AFP berig hierdie strand net buite Rome is in 1998 ingehuldig as Italië se eerste hondestrand, en sedertdien is die strand van 7 m2 gewild onder honde-eienaars in die gebied.

Patrizia Daffinà het met die idee vorendag gekom nadat sy opgemerk het hoe groot die tekort aan hondvriendelike strande is. Haar eie hond, Bimbo, is een van die strand se bekendste besoekers.

Een van die vereistes is dat leibande by die huis moet bly; hier moet hond se kind sonder inhibisies kan speel. Die strand is toegerus met sambrele en drinkwater vir honde en hul eienaars, en dit word met spesiale skoonmaaktoerusting behandel om dit higiënies te hou.

Volgens die webtuiste Wanted in Rome is toegang gedurende die week sowat R57 en oor naweke sowat R70. Dit sluit ’n pakkie met hondelekkernye in en ’n goeie was vir jou brak nadat hy klaar geswem en gespeel is. Vullissakkies is ook beskikbaar om die strand skoon te hou.

Daar is ook ’n veaarts by die strand, maar hondjies jonger as drie maande en tewe op hitte word nie toegelaat nie. Eienaars moet ook ’n bewys bring dat die honde op datum is met hul inentings.

Daar word ook in die besige seisoen inligtingsessies en praatjies vir honde-eienaars aangebied, en alle honderasse is welkom, mits hulle vreedsaam saam met die ander honde die strand deel.

Bronne: www.afp.com, www.time.com, www.wantedinrome.com

Capture

fgj

xxx

zz

Foto's: YouTube - Max Terranova