Die gemeenskap van Ermelo is in rou gedompel nadat een van hul mees geliefde inwoners koelbloedig vermoor is.

Die lyk van Issie Dippenaar (58), bestuurder van twee Christelike Maatskaplike Raad-kinderhuise op die dorp, is Maandagaand in haar motor se kattebak gevind. Volgens die polisie blyk dit dat sy verwurg is.

“Sy het die visie gedryf om ’n kinderhuis op die dorp te begin en dit is die mooiste kinderhuis in ons provinsie,” sê ds. Jaco van Niekerk, ’n familievriend en kollega.

Issie, die weduwee van ’n AGS-predikant, het volgens Jaco liefde uitgestraal in alles wat sy aangepak het.

“Dit is ’n groot slag vir ons gemeenskap. Sy het ’n groot vriendekring gehad en ongelooflike liefde terug in die gemeenskap geploeg,” sê hy.

“Dit is veral swaar vir my en my vrou, want enigiemand wat saam met Issie gewerk het, het dadelik vriende met haar geword.”

Issie het die afgelope 15 jaar op die kinderhuis se bestuur gedien.

“Hier was glad nie ’n kinderhuis op die dorp nie. Ons moes altyd ons kinders na naburige dorpe se kinderhuise stuur. Issie was die dryfkrag. Sy het ’n groot liefde vir kinders gehad wat swaarkry.”

Issie se ma het gisteraand onraad vermoed toe sy nie haar dogter in die hande kon kry nie. Ná etlike oproepe het ’n buurman gaan ondersoek instel.

Die buurman het die sekerheidsmaatskappy ontmoet en ná ’n vrugtelose soektog het hulle opgemerk haar voertuig staan onder die afdak met een van sy vensters oop. Dit is toe dat hulle op Issie se lyk in die bagasiebak afkom.

Volgens kapt. Carla Prinsloo, polisiewoordvoerder, word alle moontlike leidrade opgevolg.