Die voormalige Bokheld Joost van der Westhuizen is verheug dat die broodnodige geld wat sy eertydse prokureur Robert Klinkenberg in alle waarskynlikheid by hom gesteel het, ná ’n regsgeding aan hom uitbetaal moet word. “Ek is baie bly, want dit is my kinders se geld,” het Joost ná die uitspraak gesê. Joost het twee jong kinders, Jordan (12) en Kylie (10), by die sangeres en aanbieder Amor Vittone, van wie hy vervreem is. Waarnemende regter Lester Adams het Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof in die die sterwende Bokheld se saak teen die Getrouheidsfonds vir Prokureurs beslis Joost se ontslape prokureur het in alle waarskynlikheid R385 665 van sy geld verduister.

Op ’n vraag oor die tol wat die regsgeding op sy gesondheid geëis het, het Joost per e-pos geantwoord: “Die saak het geen impak op my gesondheid gehad nie, want ek het geleer om dit aan God oor te laat om my probleme te hanteer.”

Joost kan nog net sy oë beweeg en deur middel van ’n spesiale rekenaar met ’n oogsporingstelsel (eye tracker) op ’n skerm tik, e-pos stuur en met ’n robotstem praat. Daar skort niks met sy verstand nie.

Die regter het gelas die Getrouheidsfonds moet die geld betaal wat die oud-Bokheld toekom, asook sy regskoste, insluitend die betaling vir die dienste van adv. Jaap Cilliers SC, wat vir hom opgetree het.

“Ons is baie bly en verlig,” het Ferdi Hartzenberg, Joost se huidige regsverteenwoordiger, by navraag ná die uitspraak aan Huisgenoot gesê.

Die regter het in sy uitspraak gesê hy aanvaar Joost se weergawe dat die geld wat hy betaal het aan sy eertydse sakevriend en prokureur Robert Klinkenberg, van Klinkenberg Incorporated in Roodepoort, wanaangewend is.

Op ’n vraag oor hoe hy voel dat hy deur al die spanning van ’n regsproses moet gaan het Joost gesê daar is ’n rede hoekom hy daardeur moes gaan. “In vandag se tyd is daar baie bedrog in die wereld. Ek verstaan dit volkome.”

[caption id="attachment_137014" align="aligncenter" width="600"]Foto: Huisgenoot. Foto: Huisgenoot.[/caption]

Die Getroudheidsfonds het Joost se aansoek betwis en aangevoer Joost kon nie bewys Robert het die geld by hom gesteel nie. Die fonds het verder aangevoer hy moes dit eerder van Robert se boedel verhaal. Maar die regter het in sy uitspraak gesê die fonds het in geen stadium uitdruklik ontken dat Joost se geld wanaangewend is nie.

“Ek sou verwag het die verweerder (die fonds) sou in soveel woorde sê die geld is nie gesteel nie, maar hy het dit nie gedoen nie.

Dit is inligting wat juis in die verweerder se besit sal wees, veral in die lig dat die applikant (Joost) sy lêer aan die verweerder oorhandig het. Die onafwendbare slotsom, en die mees geloofwaardige afleiding wat hier gemaak kan word, is dat Klinkenberg die geld gesteel het.”

Die regter het aanvaar Joost het nie net die geld “belê” nie, maar wou dit ook byderhand hê vir dringende mediese kostes in die lig van sy terminale siekte.

Die fonds het op die regsaspek gesteun dat hy net geld kan uitbetaal vir dienste wat gelewer moes word, maar wat beknoei is. Die fonds het aangevoer ’n trust is nie vir beleggingsdoeleindes nie.

Die regter het bevind Joost se aansoek was dringend op grond daarvan dat hy reeds die gebruik van die meeste van sy liggaam verloor het, net deur middel van sy oë kan kommunikeer en net vloeibare kos kan inneem, en dat hy dus die geld moet kry om te kan oorleef.

Joost vertel dit gaan onder die omstandighede goed met hom. “Ek is op ’n baie gelukkige plek (in my lewe).”