Die Indiese krieketspan se somertoer na Suid-Afrika gaan wel voort, maar dit sal heel moontlik nie die tradisionele “Nuwejaarstoets” op Nuweland insluit nie.

Ná weke van onsekerheid rondom die toer het Krieket Suid-Afrika (KSA) en die Indiese Krieketraad (BCCI) vroeër vandeesweek ’n gesamentlike verklaring uitgereik en gesê die toer sal bestaan uit twee toetse en drie eendagwedstryde.

Dit lyk of die Indiese span net in Desember in Suid-Afrika sal wees, wat beteken daar sal nie soos gewoonlik op 2 Januarie op Nuweland toetskrieket wees vir Kapenaars om te ondersteun nie.

Die Protea-toetskaptein, Graeme Smith, het uit Doebai, waar die Proteas tans teen Pakistan speel, gesê dis teleurstellende nuus. “Dit is die een wedstryd elke jaar waarna al die ouens uitsien. Dit is die toetswedstryd wat die beste bygewoon word; dit is die middelpunt van die hele somer,” het hy bygevoeg.

Die Indiese toer na Suid-Afrika was ’n ruk lank in die weegskaal, blykbaar as gevolg van die BCCI se stormagtige verhouding met die uitvoerende hoof van KSA, Haroon Lorgat. Een van die voorvereistes wat die BCCI gestel het was dat Lorgat glad nie by die reeks betrokke is nie. KSA het hieraan toegegee.

Die verkorte toer beteken ’n verlies van ongeveer R200 miljoen aan inkomste vir KSA. Sou geen toer plaasgevind het nie, sou die verlies tot soveel as R500 miljoen kon wees.

Bronne: Sapa, iol.co.za, supersport.com

Deur Suzaan Hauman