Die vrou wat daaraan skuldig bevind is dat sy Zephany Nurse negentien jaar gelede uit die Groote Schuur-hospitaal ontvoer het, is Maandag tot tien jaar tronkstraf gevonnis.

Regter John Hlophe het gesê die misdade waaraan sy verbind word, is van ’n ernstige aard, maar dat hy haar persoonlike omstandighede, soos haar ouderdom, die feit dat sy geen kriminele rekord het en haar gesondheid, in ag geneem.

Die vrou is tot veertien jaar gevonnis vir Zephany se ontvoering, waarvan vier opgeskort is. Sy is tot ’n verdere vyf jaar vir bedrog en vyf jaar vir die oortreding van die kinderwet gevonnis. Die vonnisse word samelopend uitgedien.

Sy het uitdrukkingloos na regter Hlophe gestaar terwyl hy aan haar verduidelik het hoe hy op sy vonnis besluit het. Die polisie het haar daarna na die hofselle begelei terwyl sy soentjies na haar ondersteuners op die openbare galery geblaas het.

Buite die hof het Zephany se biologiese pa, Morné Nurse, gesê hulle is tevrede met die vonnis en dat genesing nou moet begin. Hy het bygevoeg sy familie is deur baie stres en slapelose nagte. ’n Familielid van die beskuldigde het gesê hulle het met haar gepraat voor haar vonnisoplegging en dat sy "gereed" is om watter vonnis sy ook mag kry, te aanvaar. Morné het ook gesê dat hy nou daarop gaan fokus om aan sy verhouding met Zephany te werk. Ondersteuners van Zephany se grootmaakma was ook by die hof en het om genade vir haar gesmeek.