As jy ’n toekomstige bruid is en dink jou bruidegom spandeer nie genoeg tyd en moeite aan jul trouplanne nie, is daar troos – jy’s nie alleen nie.

Daar is in ’n nuwe peiling bevind mans staan slegs 33 uur aan troubeplanning af, teenoor bruide se 300 uur.

Die wêreld het behoorlik troukoors gehad toe Pippa Middleton op Saterdag 20 Mei kansel toe stap. En hoewel sy nie verklap het of haar nuwe man, die skansfondsbestuurder James Matthews, haar help beplan het aan hul R17,5 miljoen troue nie, het haar ma, Carol – eienaar van die maatskappy Party Pieces – ongetwyfeld ’n sê gehad.

In ’n nuwe peiling deur die kleinhandelaar JD Williams is bevind die ma van die bruid staan meer as 50 uur van hul tyd af daaraan om hul dogter te help beplan aan hul troudag.

Skoonma’s is nie ver agter nie met 46 uur vir hul seun se groot dag.

“Dis hartverwarmend om te sien hoeveel tyd die ma’s van die bruid en bruidegom afstaan aan hul kinders se troubeplanning, maar dis interessant om te sien hoeveel meer tyd dit is as wat die bruidegom afstaan,” het Emma Warrington, e-handelbestuurder by JD Williams, gesê.

“Dit kan dalk wees omdat ouers nog finansieël bydra tot die groot dag en dus graag by besluitneming betrek wil word, maar dit kan ook ’n teken wees dat bruide steun op hul eie ma’s en skoonma’s omdat hulle waarskynlik al deur die troubeplaningsproses is – hoe dit ook al sy, is wonderlik om te sien die ma’s van die bruid en bruidegom is ’n belangrike deel van die proses.”

Die bruidegom se ouers gee gemiddeld R100 000 uit op die troue terwyl die bruid se familie sowat R224 000 vir die groot dag bydra.

As jou toekomstige bruidegom nie veel doen wat beplanning betref nie, moenie dat dit jou ontstel nie. Jy weet wat jy soek, so in plaas van om vir sy insae te vra, kan jy eerder takies aan hom delegeer – soos om verskaffers te bel of vir die beste pryse te onderhandel.

Hoewel stres in die aanloop tot die groot dag onvermydelik is, is dit beter om kalm te praat oor wat jy nodig het eerder as om ontsteld te raak oor jou maat se bydrae.

– Cover Media