Maandag is daar in die Port Elizabethse hooggeregshof gehoor dat Christopher Panayiotou sy vrou dood wou hê en glo R80 000 daarvoor betaal het.

So het Luthando Siyoni, die vermeende middelman in die saak, getuig. Christopher word aangekla van die moord op sy vrou Jayde, ’n onderwyser. Hy word ook daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein agter die donkerkop se ontvoering en moord was. Sinethemba Nenemba (28) en Zolani Sibeko (35) staan saam met Christopher tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Luthando het ook in die hof beweer die oorlede Sizwe Vumazonke, wat glo die doodskoot sou trek, het aan hom vertel dat Jayde se man haar dood wou hê.

Sizwe het in September gesterf terwyl hy verhoorafwagtend was. Lees ook: Christopher Panayiotou ontken moord op sy vrou ten sterkste Luthando het glo saam met Sizwe na die Infinity-nagklub, wat aan Christopher behoort, gery nadat Jayde op 21 April 2015 verdwyn het.
"Op pad soontoe het hy vir my 'n storie vertel," het Siyoni aan die hof vertel. Dié twee was glo by een of ander onderhandeling betrokke en sou glo saam gewigte vir 'n gimnasium aankoop. "Hy het gesê dat Christopher hom gestuur het om sy vrou dood te maak!" het die bonkige uitsmyter en gimnasium-instrukteur ferm verklaar. Die gesprek het glo plaasgevind toe die twee op pad na Infinity was om die geld by Christopher te kry. Volgens Luthando het Panayiotou "wegkruipertjie" met hom gespeel.
Luthando het getuig dat hy R80 000 van Christopher by Infinity sou ontvang. Die geld was glo bedoel vir Sizwe kort na Jayde se moord. Luthando sou Sizwe glo net R50 000 gee en die res vir homself hou.
Lees ook: Jayde Panayiotou se laaste oomblikke in grafiese uitbeeldings aan hof gewys Twee kontakte was op Luthando se selfoon as "Happy Trigger" gestoor. Hy het aan die hof genoem dat hy een mens met daardie bynaam ken: 'n entoesiastiese gimnasiuim-besoeker. Maar hy weet nie hoekom daar 'n tweede kontak met dieselfde naam met 'n ander nommer op sy foon gestoor is nie. Christopher erken wel dat die nommer wat op Luthande se foon as Chris 2 gestoor is, wel sy nommer is.

Bykomende bronne: News24, ewn.co.za