Niemand kan stry nie; daar is min goed so lekker soos om op jou verjaardag te sien hoe die verjaardagwense een na die ander op Facebook instroom. Maar min weet jy dalk dat hierdie einste verjaardagwense jou aansienlike skade kan berokken.

Volgens die Verenigde Koninkryk se bedrogverhinderingsdiens Cifas moet almal sou gou moontlik hul verjaardagdatums van Facebook verwyder aangesien dit ’n risiko vir identiteitsbedrog inhou.

Volgens die diens het aanlyn identiteitsbedrog in die afgelope jaar met minstens 50 persent toegeneem.

Lees ook: ’n Nuwe Facebook-funksie kan jou heel moontlik rooi in die gesig laat

Kuberdiewe doen deesdae die ronde op sosialemedia-platforms om jou besonderhede soos jou naam, adres, e-posadres, selfoonnommer en ook jou verjaardag in die hande te kry. Hierdie inligting word dan ingespan om nog meer oor jou uit te vind.

Volgens Cifas word iets as identiteitsbedrog beskryf wanneer ’n bedrieër hom- of haar voordoen as ’n kliënt wat iets aankoop, maar met jou besonderhede. Die onskuldige slagoffer vind eers uit hy of sy is ingeloop wanneer hulle ’n stewige rekening ontvang.

Maar om hierdie truuk suksesvol te vermag, het die skelms al jou persoonlike besonderhede nodig. Juis daardie inligting wat jy so vrylik op sosiale media, insluitend Facebook, Twitter en LinkedIn deel.

Lees ook: Bekommerd oor selfdoodwoorde op Facebook? Hier is hulp

“Bedrieërs is opportuniste,” sê Simon Dukes, uitvoerende hoof van Cifas, op hul webtuiste.

“Facebook, Twitter, LinkedIn en ander aanlyn platforms is baie meer as net sosialemedia-webtuistes – dit is ’n jagveld vir identiteitsdiewe.

“Ons spoor almal aan om hul besonderhede te verander en twee keer te dink voor hulle iets deel.”

Gebruik liewer ’n nuttige notaboek om verjaardae te onthou en keer so dat jy die kos van kuberdiewe word.

Dit is hoe jy jou verjaardag van Facebook kan afhaal:

Stap 1: Gaan na jou tydlyn op Facebook

Stap 2: Klik op “About”

Stap 3: Klik op “Contact and Basic Info”

Stap 4: Klik op die slot-ikoon langs jou verjaardag en verander na “Only me”

Stap 5: Berg die veranderings

Bronne: Unilad, Express UK, Cifas