Sy naam is Pumelelo.

Dié mannetjie is op 28 Junie op die buffelplaas Lekkerleef naby Marble Hall in Limpopo gebore.

Dié wêreldwye eerste is gedoen deur dieselfde man wat 13 jaar gelede die eerste bees gekloon het. Dr. Morné de la Rey, besturende direkteur van Embryo Plus, was in 2003 betrokke by die kloning van die eerste dier in Afrika, 'n gesonde Holstein-vers, by dié sentrum in Brits in Noordwes.

Futhi is in April 2003 gebore. Geen sperm of bul was betrokke by die geboorte van dié kalf nie. Futhi is geskep deur 'n enkele sel wat tydens 'n biopsie geneem is van die oor van 'n skenkerkoei. Dit is toe ingeplant in 'n leë koei-eiersel en later weer ingeplant in 'n koei.

Nes Futhi destyds by geboorte gesond was, is Pumelelo 'n gesonde kalf, sê De la Rey.

Die proses wat gebruik is om Pumelelo te verwek, is baie soortgelyk aan wanneer 'n vrou deur in vitro-bevrugting probeer swanger raak.

Vasti, 'n buffelkoei, was onder narkose toe eierselle onttrek is uit haar deur 'n tegniek wat ovum pick-up genoem word. Die eierselle is bevrug met 'n Kaapse buffel, Goliat, se sperm.

Ná sewe dae se groei is die embrio ingeplant in 'n surrogaatkoei wat die fetus gedra 11 maande lank gedra het. 'n DNS-toets is gedoen, wat bevestig het dat Vasti en Goliat Pumelelo se ouers is.

“Omvangryke navorsing was vooraf nodig om die eierselle te bevrug en die embrio’s te inkubeer tot 'n gevorderde vlak van ontwikkeling. Alle spesies het verskillende vereistes vir groei en gebruik verskillende nutriënte in die laboratoriumfase,” sê De la Rey.

“Dis ’n betekenisvolle deurbraak, want dit is die eerste van sy soort ter wêreld. Dit hou groot belofte in vir die oorlewing van bedreigde spesies.”

Dié werk word beskou as die eerste tree in 'n internasionale gesamentlike poging om bedreigde spesies soos die noordelike witrenoster te red.

Daar is net drie noordelike witrenosters oor. Die een is 'n bul genaamd Sudan en die ander twee is koeie wat bekend is as Najin en Fatu.

Hulle al drie woon in die Ol Pejeta-bewarea in Kenia. Die laaste noordelike witrenoster in Amerika is verlede jaar dood in die San Diego dieretuin.