Baie ander vroue sou seker haar oë wou uitkrap, maar die regte, egte vrou van Mr Grey (Jamie Dornan), Amelia Warner, het heel koel en kalm gelyk oor die gekarfoefel met Anastasia Steele (Dakota Johnson) net ’n paar minute gelede voor die rolprentkameras.

Hulle drie is deur paparazzi gekiek waar hulle in die branders baljaar in Saint-Jean-Cap-Ferrat in Frankryk waar die laaste tonele van Fifty Shades Darker verfilm is.
Tog vertel skinderbekke uit die binnekring dat “Mrs Grey” “paranoïes en obsessief” was oor ’n romanse wat kon uitbroei tussen die twee sterre in die tweede fliek in die Fifty Shades-stal, wat volgende jaar op die wye doek te sien sal wees. “Dis nooit maklik om weer jou ou self te raak nadat jy pas ’n baba gehad het nie – dit eis sy tol van jou emosies en lyf – maar om te weet jou man is besig met stoute speletjies saam met ’n ander vrou, kan te veel wees om te hanteer,” meen ’n bron. Amelia en Jamie het hul tweede dogtertjie in Maart vanjaar in die lewe verwelkom. In die vorige Fifty Shades-fliek was die vonk maar baie flou tussen die twee akteurs wat veronderstel was om te brand van wellus vir mekaar.

Resensente en aanhangers van die E.L. James-boeke meen dit is hoekom daardie fliek so vrot was.

“Tydens die eerste fliek het hulle nie lekker saamgewerk nie en Dakota het ook verhoudingsprobleme tydes die verfilming gehad,” vertel ’n bron aan Hollywod Life. “Dit was ’n vreemde ervaring vir hulle om aan gewoond te raak met al die spanning van naaktheid en alles op die stel. Dit het albei ondergekry.

“Hierdie keer op die stel was hulle heeltemal cool met mekaar en het ’n lekker tyd gehad en wou hierdie film so goed moontlik maak vir aanhangers van die boeke.”

Die seksuele spanning tussen Jamie en Dakota is ’n goeie ding vir die vervaardigers, maar is seker swaar om aan te sluk vir Amelia. Ooggetuies vertel die 34-jarige akteur het gesukkel om onder die oë van sy vrou uit te kom waar hulle in Vancouver, Kanada, en Frankryk verfilm het.

Daar was in ’n stadium gerugte dat die twee selfs op skei staan, maar toe verskyn foto’s waarop hulle mekaar troos toe verfilming klaar was in Frankryk en hulle terug moes keer Amerika toe. Sedertdien lyk dit asof hulle onafskeidbaar is. Verfilming aan die derde fliek, Fifty Shades Freed, is reeds aan die gang met dieselfde regisseur, James Foley, aan die stuur.

Amelia is ook ’n aktrise wat te sien was in flouerige gruwelflieks soos Echo en Gone en sedert die 1990’s ’n gereelde gesig op TV in reekse soos Walking the Dead. Sy is ook ’n sangeres wat onder die verhoognaam Slow Moving Millie optree.

BRONNE: Parentherald.com, ibtimes.com.au; justjared.com; inquisitor.com; dailymail.co.uk