[post-slider]

’n Koper met ’n stewige bankbalans het pas $100 miljoen (R1,1-biljoen) opgedok vir wat nou amptelik die duurste woning in New York is.

Dié dakwoonstel, wat die hele 89 en 90ste vloer van die nuwe One57-gebou in Manhattan beslaan, se nuwe eienaar se naam is nog nie bekend gemaak nie. Hy (of sy) het nou die eer om die meeste geld nóg vir ’n woning in New York op te dok.

Hierdie woonstel is sowat $12 miljoen duurder as die vorige rekordhouer wat in 2012 deur Ekaterina Rybolovleva, die dogter van ’n Russiese miljardêr, gekoop is.

Die luukse woonstel beskik oor ses slaapkamers, sewe badkamers en etlike onthaal- en eetareas. Te same met die asemrowende uitsig het die eienaar ook toegang tot ’n gim, Jacuzzi, swembad, biblioteek en privaat filmteater.

Die spoggerige One57-woonstelblok is die hoogste residensiële gebou in die stad.

Feitlik elkeen van sy sowat 92 woonstelle is reeds verkoop. Dit huisves ook ’n luukse Park Hyatt-hotel met 210 kamers. Die toppunt troon 306 meter bo die stad uit.

Bronne: QUARTZ.COM; NYDAILYNEWS.COM; ONE57.COM