Om by die Olimpiese Spele deel te neem is sonder twyfel een van die grootste prestasies wat enige atleet kan behaal.

Maar stel jou voor jou Olimpiese vreugde word in die wiele gery deur gemene aanlyn kommentaar wat met jou voorkoms spot.

Dit is die nare ervaring wat Robel Habte, ’n 24-jarige swemmer van Ethiopië, te beurt geval het nadat hy aanlyn afgekraak is oor sy rondings.

Die swemmer het teruggekap en gesê hy was twee maande lank beseer ná ’n onlangse motorongeluk en het daarom gewig aangesit. Hy het reeds ’n hele paar kilo’s afgeskud en weeg nou glo 82 kg.

“Van die goed wat mense gesê en geskryf het, is werklik nie gaaf nie,” het Robel, wat onder meer aanlyn “Robel die walvis” genoem is, aan die Daily Mail gesê.

“Ek is ’n vriendelike mens en sal nooit so iets oor ander mense sê nie.”

Robel het erken hy moet ’n hele paar kilo’s afskud en vertel hy werk daaraan. Tog is hy verheug om by die Spele te wees, het hy aan Reuters gesê. “Ek is so opgewonde, want dit is my heel eerste keer by die Olimpiese Spele.”

Kykers het aanlyn gevra of hy aan die “bierpens”-Spele deelneem en selfs tuis in Ethiopië was kuberkommentaar kwetsend, glo ook omdat Robel se pa die grootbaas is van hul land se swemfederasie en dit glo al rede is waarom Robel Spele toe gegaan het. Hy is deel van ’n groep genooide atlete van lande wat onderverteenwoordig is by die Spele. Hulle is genooi en hoef nie te kwalifiseer om deel te neem nie.

Ook Alexa Moreno (22), ’n gimnas van Mexiko, is aanlyn getreiter omdat sy glo “te vet” is. Foto’s van varke is aan haar getwiet en mense het geskryf sy is so groot soos “twee gimnaste”.

Bronne: Daily Mail, Huffington Post, Twitter, Reuters