“Bedrieërs sal begraafplase, aanlyn doodsberigte en selfs koerante deursoek om ’n oorledene te vind wat by die profiel pas wat hulle soek,” het Dawid Jacobs, ’n kenner van Independent Identity Verification aan Fin24 gesê. “Byvoorbeeld, die regte geslag, ouderdomsgroep en rasprofiel, want hulle wil daardie mens se identiteit aanneem.” Identiteitsdiefstal maak dit vir kubermisdadigers moontlik om vals rekeninge te open waarvoor die oorspronklike eienaar van die identiteit dan moet opdok.
'SA is een van die topdrie lande ter wêreld wat die hoogste bedrogkoers ervaar.'

“Suid-Afrika is een van die topdrie lande ter wêreld wat die hoogste bedrogkoers ervaar met oorledenes se herwonne identiteite,” sê Dawid.

Dié mening stem ooreen met navorsing van Cleardata, wat getoon het identiteitsdiefstal in Suid-Afrika het verlede jaar tot verliese van R1 biljoen bygedra.

Maar Dawid sê dis juis die manier waarop ons met ondernemings sake doen wat ons vir identiteitsdiefstal kwesbaar maak.

“Ons word verplig om al ons persoonlike besonderhede te verskaf om te kan sake doen. Wanneer ons vir krediet, selfoonkontrakte, versekeringspolisse of selfs werk aansoek doen, word ons verplig om ons identiteit aan vreemdelinge bekend te maak en te hoop hulle tree eerbaar op.”

Terwyl wette soos die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum (38 van 2001), wat as Fica bekendstaan, ten doel het om geldwassery uit te wis en seker te maak dat finansiële transaksies veilig kan plaasvind, vat party ondernemings kortpaaie.

Vele verskaffers van lenings sal ’n transaksie haastig oor die foon beklink en dan dikwels net drie vrae vra as bevestiging van ’n identiteit.

’n Misdadiger met toegang tot basiese inligting wat op fakture of diensterekeninge voorkom, kan maklik iemand se identiteit aanneem en op bedrieglike manier tot geld toegang kry.

Terwyl grootskaalse kubervoorvalle die hoofopskrifte haal, maan Dawid dat hoewel die metode wydverspreid voorkom, daar makliker maniere is om persoonlike besonderhede te steel.

“Bedrieërs stuur e-posse uit wat kastig van ’n finansiële instelling of inkomstediens kom. Die aangehegte lêer bevat skadeware wat ontwerp is om jou persoonlike besonderhede te steel.”

Sulke uitvis-aanvalle is besonder gewild in die land wanneer dit inkomstebelastingtyd raak.

’n Uitvisboodskap wat kwansuis van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens kom, bevat gewoonlik ’n nabootsing van die amptelike logo met ’n skakel na ’n webtuiste wat eg lyk.

Internetgebruikers word aangeraai om die e-posse summier te skrap, want dit bevat dikwels skadeware-aanhangsels of aanwysings na ’n uitviswebtuiste waar misdadigers finansiële inligting sal kan steel.

Bron: Fin24