Die koesterende gevoel van ’n kaggelvuur is weergaloos. Wie kan dan nou die flikkerende vlamme en die sagte geknetter van hout weerstaan terwyl jy jouself dalk tussen die blaaie van ’n boek verloor, na hartsmusiek luister of wonderlike geselstyd met jou geliefdes deurbring?

Maar dit kan ook gruwelik skeefloop as daar nie met veiligheid en omsigtigheid te werk gegaan word met daardie einste bron van hitte nie.

Dit is ’n goeie plan om gereeld die kaggel se skoorsteen – binne en buite – na te gaan. ’n Voëlnes of droë takke en blare aan die bopunt van die skoorsteen kan maklik met die geringste vonkie aan die brand slaan en tot groot skade lei.

Maak seker die sement en bakstene rondom jou kaggel en skoorsteen is nie gekraak of selfs afwesig nie. Dit kan tot onnodige verlies van die kaggel se hitte lei en jou in alle waarskynlikheid noop om veel meer brandhout te gebruik was wat eintlik nodig is.

Jy is amper reg om die vuur aan te steek. Wat gebruik jy om die vlamme aan te wakker? Onthou net, brandstof en lampolie is heeltemal taboe!

Berei jou eie “aanstekers” voor

Maak droë takkies en blare bymekaar. Breek dit fyn en gooi dit saam met stukke van ’n kers en bolletjies koerantpapier in ’n bruin papiersakkie. Berei 'n paar van hierdie “brandsakkies” sodat jy nie in die koue hoef rond te hardloop om aanstekers in die hande te kry nie.

Vou elke sakkie styf toe, steek dit aan en plaas dit versigtig tussen die hout wanneer jy reg is vir ’n kaggelkuier. Jy kan vir ekstra hulp nog ’n kers in stukke breek en daardie stukke bo-op die hout in die kaggel plaas.

Hou jou vuurmaakhout so ver as moontlik aan die agterkant van jou kaggel.

Terloops, waak daarteen om jou kaggel tot boordens toe met hout te vul, al wil jy graag ’n monster van ’n vuur hê. Dit kan werklik in ’n monster ontaard – een wat die skoorsteen kan laat kraak en selfs jou huis kan afbrand as dit buite beheer raak.

Hou jou vuurmaakhout so ver as moontlik aan die agterkant van jou kaggel. Sodoende word verhoed dat daardie knetterende vlamme nie buite die kaggel versprei nie.

Maak seker daar is net mooi niks naby jou kaggel wat aan die brand kan slaan nie.

Gek oor versierings bo jou kaggel? Of ’n mat daar naby omdat dit “reg” lyk? Veiligheid kom eerste. Bêre dus maar die versierings of plaas dit elders en skuif jou mat weg van die kaggel.

’n Vuurtjie in die kaggel is nes daardie stout kind wat jy altyd onder oë moet hou. Moenie dit alleen los of gaan slaap terwyl dit nog brand nie.

Sodra die vuurtjie mooi brand, is dit raadsaam om ’n kaggelskerm voor die kaggel te plaas.

’n Vuurtjie in die kaggel is nes daardie stout kind wat jy altyd onder oë moet hou. Moenie dit sonder toesig los of gaan slaap terwyl dit nog brand nie.

Het jy geweet ’n kaggelvuur verbruik ongeveer vyf keer soveel suurstof as wat gewoonlik in ’n vertrek nodig is? Maak seker daar is minstens ’n venster oop wanneer jy die vuur aansteek.

'n Brandblusser in die huis is altyd 'n goeie idee. Huishoudelike brandblussers word A, B of C geklassifiseer. A is vir gewone vlambare items soos hout, papier en materiaal. B is vir vlambare vloeistowwe soos brandstof en kookolie en C is vir elektrisiteit.

Wanneer jy jou kaggel skoonmaak, moet jy die afgekoelde as verkieslik in ’n metaalhouer buite jou huis stoor.

Hoe gemaak as jou kaggel met gas werk?

As jou kaggel glasdeure het, moet jy seker maak hulle is nie gekraak nie. Hulle moet ook stewig sluit.

Draai die gas by die klep toe en toets die aansteker om seker te maak daar is nie gas wat lek nie.

Maak seker dat die vlamgaatjies nie verstop is nie. Gebruik ’n speld of naald om enige blokkasies te verwyder.

Wanneer sake skeefloop

Draai dadelik die gasbottel se klep toe as jy gas ruik. Moenie ligte of toerusting aanskakel of ’n telefoon gebruik wanneer dit gebeur nie. Gaan uit die vertrek en maak alle vensters en deure wawyd oop sodat die gas kan ontsnap.

Moenie die gasbottel daarna gebruik sonder om dit eers behoorlik deur ’n gekwalifiseerde gastegnikus te laat toets nie.

Hoe weet jy wanneer jy gas ingeasem het?

Dit kan dodelik wees. Van die simptome wat jy ervaar, sluit moegheid of lomerigheid in. Jy kan kortasem voel en ’n kopseer kry. Naarheid, bors- en maagpyn kan volg. Duiseligheid en bewusteloosheid kan intree as jy nie betyds van die gaslekkasie wegkom nie.

Jou beste pasmaat vir kaggelkuiers

Bronne: houselogic.com, arrivealive.co.za, clean-organized-family-home.com