“Daar was ook vroegoggend reën oor KwaZulu-Natal en Mpumalanga,” sê Dipuo Tawana, ’n weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens.

Volgens die weerburo is daar Saterdag ’n 30% kans op reën in Johannesburg, maar teen Sondag verhoog die kans op reën tot 60%.

Saterdag sal die maksimumtemperatuur in die Goudstad 31°C wees. Sondag se maksimumtemperatuur is 25 met ’n minimumtemperatuur van 15°C.

In Kaapstad sal die reën teen Saterdagoggend iets van die verlede wees. Dié wat beplan om Sewes-rugby in die Moederstad te gaan kyk, moet maar sonskerm en hoede saamvat, want die weerdiens voorspel ’n maksimumtemperatuur van 25°C vir Saterdag en 29°C teen Sondag.

Dipuo voorspel reën vir die naweek oor Limpopo, Mpumalanga, Gauteng, KwaZulu-Natal en die oostelike dele van die Oos-Kaap.

Vakansiegangers in die Mosselbaai-omgewing gaan ’n effens bewolkte naweek beleef, maar volgens die weerdiens word geen reën voorspel nie.

In die Noord-Kaap en die noordelike gedeeltes van die Wes-Kaap gaan die kraaie gaap. Die kwik gaan bo die 40°C-merk styg in baie dele.

Maar volgens ’n verklaring van die hoof weervoorspeller, Kevin Rae, sal dié hitte korstondig wees en kan reën en donderstorms in die Karoo verwag word teen volgende week Dinsdag en Woensdag.

Bloemfontein in die Vrystaat gaan moontlik die naweek lekker droog wees, maar teen Maandag is daar ’n 60%-kans op reën in die Rosestad.

Volgens Dipuo is dit nog nie duidelik hoe Vyrdagoggend se reën damvlakke gaan beïnvloed nie.

Sy sê dit gaan nog ’n ruk neem voordat die reën ’n verandering in die droogtegeteisterde gebiede van die land gaan maak.

“Die waterberperkings sal ook steeds in plek bly totdat daar genoeg reën geval het om die damvlakke genoeg te laat styg,” sê sy.