Die adreslys op jou slimfoon – en hier word na Apple- en Android-fone verwys – kan dalk jou ondergang beteken.

Reeds in 2012 het The New York Times gewaarsku dat gewilde apps gereeld inligting van jou persoonlike adreslys insamel. Twitter, Foursquare en Instagram se name het destyds in hierdie verband opgeduik.

Van die app-ontwikkelaars het selfs jou persoonlike inligting op hul eie rekenaars gestoor.

Apple het in die kruisvuur beland omdat dit gebeur het, al het die maatskappy se regulasies dit uitdruklik verbied. Apple se reaksie daarop was om te vereis dat apps ’n gebruiker se goedkeuring moet hê as hulle enige kontakbesonderhede op daardie gebruiker se foon wil bekom.

Google, vir Android, het ook reeds sagtewareontwikkelaars verplig om vooraf gebruikers se toestemming te vra vir toegang tot enige persoonlike inligting.

Die sagtewarebedryf, met verwysing na slimfone, is destyds deur Kevin Mahaffey, hooftegnologiebeampte van Lookout, beskryf as ’n nuwe bedryf wat “op soveel maniere die Wilde Weste is”.

Vier jaar later is dié Wilde Weste steeds net so wild met jou persoonlike inligting.

Hoekom is dit so ’n slegte idee om inligting in jou adreslys te stoor?

Eerstens, die formaat waarin dit gestoor word: Omdat dit as gewone plain text ingevoer word, bestaan daar geen beskerming daarvoor nie.

Plain text is teks wat geensins geënkripteer of spesiaal geformatteer is nie.

Dit is juis hoekom dit kinderspeletjies is vir kuberkrakers om só selfs jou mees-persoonlike of sensitiewe inligting te bekom.

Die minste van jou kommer in hierdie geval is die beskerming van jou kontaknommer. Die meeste slimfoongebruikers se kontaknommers is in ieder geval reeds bekend en beskikbaar.

Maar hoe gemaak as jy ’n geheime wagwoord of iets van ’n sensitiewe aard op jou slimfoon wil stoor?

Maak seker jy het ’n goeie wagwoordbestuurder (password manager) op jou slimfoon, veral as jy gereeld wagwoorde bywerk en nuwes bykry.

Die aanlyn weergawe van die tydskrif PC Magazine identifiseer sewe gratis wagwoordbestuurders wat hulle tot dusver as 2016 se bestes beskou.

password managers

In ’n wêreld waar kuberkrakers wagwoorde as hul eie persoonlike uitdagings beskou, moet jy seker maak jou enkele wagwoord vir dié programme is waterdig. Vergeet van 1234, password of qwerty as wagwoorde.

Slim aanlyn slenters kan jou dalk ook laat dink dit is die ware Jakob wat jou wagwoord vra.

Die goue reël is om daardie onrustige stemmetjie in jou binneste te gehoorsaam. As jy nie seker is nie, is Google altyd byderhand om te help. Ook webtuistes soos hoax-slayer.com en snopes.com waarsku teen vals gerugte.

As ’n wagwoordbestuurder vir jou te omslagtig of uitdagend klink, kan jy natuurlik ’n dokument op jou rekenaar skep wat self met ’n wagwoord beskerm word.

Die tegno-webtuiste wired.com sê selfs wagwoorde op papier neergeskryf is veiliger as om dit in jou slimfoon se adreslys te stoor.

“Die absoluut ergste is ’n onbeskermde digitale lêer, sonder enkripsie, wat op jou slimfoon is en wat met jou skootrekenaar gesinchroniseer kan word,” waarsku Jeff Paradise, hoofbemarkingsbeampte van Dashlane, ’n databestuurmaatskappy.

Die ontwikkelaars van wagwoordbestuurders het simpatie met mense wat hul adreslys vir sensitiewe data gebruik. Dit is ’n tweesnydende swaard. Hoewel dit sinchronisasie seepglad laat verloop, laat dit die deur wawyd oop vir krakers om jou sensitiewe inligting in die hande te kry.

Trek dus maar ’n pen en papier nader en doen dit op die outydse manier of stoor dit elders, weg van jou slimfoon en daardie skarminkels wat hul hande saamvryf in afwagting om jou inligting te versprei of te misbruik.

Bronne: pcmag.com, wired.com, nytimes.com