.

Die veiligheidsbestuurder by die kompleks, Edward Gobey, en twee inwoners is ook dood. Die bloedbad in The Meadows-kompleks het kort na 13:00 begin toe 'n inwoner, Danie Small, glo klippe na sy buurvrou gegooi het, berig Netwerk24.

Volgens verskeie nuusagentskaoppe het Edward in sy hoedanigheid as veiligheidsbestuurder hom na die toneel gehaas, vermoedelik saam met nog 'n veiligheidswag. Een inwoner het aan Netwerk24 gesê Danie "was maar 'n probleem-inwoner". Daar aangekom het hy op Edward begin skiet vanaf die plat dak bo sy patio. Edward is in die kop getref en het op die toneel gesterf. Die polisie en 'n ambulans is ontbied. Bure het geskarrel om terug te keer na hul huise. 'n Tyd later is twee polisielede sowel as drie lede van die Brinant-veiligheidsdiens binne Danie se erf vasgekeer. Hulle was glo te bang om te vlug, omdat Danie enige oomblik op hulle kon skiet. Die polisie se taakmag het toe met 'n helikopter in die kompleks geland.

'n Gyselaaronderhandelaar is ook ontbied om die polisielede en veiligheidsbeamptes te probeer bevry.

Teen half agt die aand kon die polisie aankondig die gyselaars is bevry, maar 'n gewapende Danie was steeds in sy huis. Omdat hy die polisie se elke beweging op sekuriteitskameras buite sy woning kon dophou, het die taakspan al die elektrisiteit na die kompleks afgeskakel.

Die drama het net na 22:00 geëindig toe die polisie Danie se lyk in sy huis aantref. Dis nog nie bevestig of hy homself om die lewe gebring het nie.

Inwoners van The Meadows was vir ure lank verhoed om na hul huise terug te keer nadat die strate rondom die kompkleks afgesper is. Danie se vrou het intussen traumabehandeling ontvang.