Meer as 130 miljoen Amerikaners gaan na verwagting aan Dinsdag se verkiesing deelneem.

Wat moet ek van die verkiesing weet?

1. Die Amerikaners draf op Dinsdag 8 November by die stembusse uit. Hulle stem altyd op die eerste Dinsdag ná die eerste Maandag in November van die stemjaar.

2. In elke Amerikaanse deelstaat stem inwoners vir die presidentskandidaat. Maar dit is nie ’n geval van die kandidaat met die meeste stemme is die president nie. O nee, dit is ’n bietjie meer ingewikkeld as dit.

In Amerika is daar ’n groep amptenare wat as die “electoral college” bekend staan.

Lees ook:Waarom hou mense nie van Hillary Clinton nie?

Wanneer die Amerikaanse burgers gaan stem, stem hulle eintlik vir “kiesers”. Elke deelstaat het ’n sekere aantal “kiesers”.

Die presidentskandidaat wat die meeste stemme in een deelstaat kry, “wen” dan al die kiesers in daardie deelstaat.

So, sê nou maar die deelstaat van New York se meerderheidstemme gaan vir kandidaat A, beteken dit kandidaat A wen al 29 van New York se kieserstemme. (Dis net in Nebraska en Maine waar al die kiesers nie afgestaan word aan die burgers se meerderheidstem nie.)

’n Presidentskandidaat het 270 “kieserstemme” nodig uit die groep van 538 om president te word.

3. Die Amerikaners begin stem wanneer ons al amper moeg gewerk is. Die stembusse open tussen 06:00 en 07:00 en sluit tussen 19:00 en 20:00 die aand in Amerika. In Iowa en Noord-Dakota bly stembusse oop tot 21:00, berig die Financial Times. Van middernag (ons tyd) af sal die stembusse stuk-stuk begin sluit en sal die uitslae stadig maar seker, en staat vir staat, bekend gemaak word.

Lees ook: Kan Hillary Clinton se e-pos-dilemma haar kanse op die presidentskap kelder?

Ons behoort teen vroegoggend op 9 November al ’n idee te hê van wie die nuwe president gaan wees.

4. Watter deelstate kan die uitslag swaai? Oor die afgelope paar jaar was Florida en Ohio die twee deelstate wat die uitslag bepaal het, berig The Telegraph.

Die deelstate van Arizona, Georgia en Missouri se uitslag is al vir meer as twee dekades in die guns van die Republikeine. Maar gaan dit vanjaar weer die geval wees?

Iowa en Pennsilvanië is deelstate wat ook die uitslag kan verander – albei is in 2008 en 2012 deur Barack Obama verower. Maar vanjaar is Iowa en Nevada twee van die deelstate wat in die weegskaal is.

5. Op stemdag sal TV-netwerke die state as blou of rooi aandui. Blou beteken daardie staat steun die Demokratiese kandidaat, Hillary Clinton, en rooi beteken die staat steun die Republikeinse kandidaat, Donald Trump.