’n Oënskynlik onskuldige gebaar soos dié kan ernstige gevolge hê.

Het jy geweet “mensekos” kan siektes by diere veroorsaak? Dit kan selfs tot hul dood lei, enersyds omdat dit nie geskik is vir hul verteringstelsel nie; andersyds omdat hulle aggressief kan raak – en noodgedwonge van kant gemaak sal moet word.

Dit alles begin met een onskuldige, onnadenkende oomblik. Net soos die mens gou bederf word met ’n interessante smaak of kos wat te maklik binne bereik is, net so maklik kan dit vir wilde diere wees om afhanklik te raak van so ’n toeganklike voedingsbron.

Dit is een van die redes waarom besoekers aan ons nasionale parke voortdurend gemaan word om seker te maak alle kos word veilig weggepak. Vernuftige bobbejane en ape het in baie gevalle reeds die kuns aangeleer om yskaste en koskaste oop te maak.

Jy kan die risiko van hul ongevraagde besoeke verlaag deur alle herwinbare glas- en plastiekhouers te was om alle oorblyfsels en reuk van kos te verwyder. Veral van die kleiner spesies se koppe kan maklik in ’n houer vassit, en dit is nie altyd moontlik om hulle betyds te red nie.

Hierdie eekhorinkie was gelukkig.

Word daar na die groter diere in die natuur gekyk, is die risiko natuurlik veel hoër. Onthou, wilde diere kan onvoorspelbaar wees.

’n Lui terg met kos of deur kos na byvoorbeeld ’n honger hiëna te gooi, kan katastrofies vir sowel mens as dier eindig. Veral as jy besef dat die einste honger hiëna tot byna 60 km per uur kan beweeg.

Terloops, ’n hiëna se kake klap toe met ’n allemintige byna 76 Bar (1 100 psi) terwyl leeus se byt “net” 41 Bar (600 psi) registreer.

Moenie met daardie stukkie kos in jou hand betrap word nie. Daar bestaan nie ’n waarborg dat ’n wilde dier gaan weet waar die happie eindig en jou vingers begin nie.

Nou met die skoolvakansie is die kans goed dat sommige besoekers aan bestemmings soos die Krugerwildtuin dalk nie die erns van die verbod op die voer van wilde diere ten volle besef of handhaaf nie.

William Mabasa, die hoof van kommunikasie van Sanparke, het in ’n verklaring die vernietigende impak rondom die voer van wilde diere beklemtoon.

“Die diere word meer aggressief teenoor besoekers,” het hy gesê.

In ’n onlangse voorval is ’n 15-jarige seun, Erco “Boela” Janse van Rensburg, in sy tent in die Krugerwildtuin deur ’n hiëna aangeval.

Die vermoede bestaan dat ’n vlakvark ’n gat onder die heining gegrawe het waardeur die hiëna toegang tot die kamp verkry het.

Margie Ball het op Sanparke se Facebook-blad die volgende kommentaar gelewer: “Ons het verlede jaar daar kampeer en hoewel daar oral waarskuwings was om nie die hiënas te voer nie, het kampeerders bene en vleis vir die ‘patrollerende’ hiëna aan die anderkant van die heining gevoer.”

Ook hier het Mark Christopher Johnson dit bevestig. “Dis alles te wyte daaraan dat mense hul oorskiet oor die heining gooi. Ek sien dit elke keer in die park. Jy kan nie onnosel mense opvoed nie.”

Sonelja Fourie sê: “Ongelukkig is dit waarskynlik omdat gaste die diere voer. Mense het my vertel hoe hulle oorskietkos oor die heining gooi en vir die hiënas wag.”

Maar wag, besluit self of dit regtig die volgende foto of oulike oomblik werd is wanneer jy die onvoorspelbare reaksie en spoed van wilde diere in aksie sien.

Bronne: enr.gov.nt.ca, sanparks.org, dpaw.wa.gov.au, spca.bc.ca, travel24.com, listverse.com