“Ek is nie veronderstel om in Rio te wees nie. Dis alles net die Here se genade.”

Anruné Liebenberg (23) was die afgelope jaar nie doodseker of sy haar Paralimpiese droom vir ’n tweede keer sal kan bewaarheid nie. Maar sy het tog Woensdagaand seker gemaak Suid-Afrika kan met nog ’n silwermedalje spog.

Anruné het die eindronde van die 400m vir vroue (T47-kategorie) in 58.88 sekondes gehardloop. China se Li Lu het die eerste plek behaal met ’n tyd van 58.09 sekondes.

Kyk hier hoe sy hardloop:

Anruné is ’n onderwysstudent aan die Universteit Stellenbosch. Sy het verlede jaar in November en weer in Mei vanjaar ’n knie-operasie ondergaan en sy was nie seker of haar knie betyds vir die Paralimpiese Spele sou herstel nie.

“Die Here het my regtig geseën en ná my operasie het ek gevoel in my hart dat hy teenwoordig is; dat hy dag na dag saam met my gaan wees. So die rede waarom ek hier is, is omdat God ’n wonderwerk met my knie laat gebeur het en dat ek 100% is.”

Packed and ready to take on RIO#TeamRSA#Rio2016

A photo posted by Anruné Liebenberg (@anrune01) on

Anruné sê sy het Woensdagaand alles gegee. “My hart is vol want ek het met hard en siel uit gegaan.”

Boonop is dit vir haar wonderlik om die ervaring met haar ma, tannie, kêrel en afrigter te deel. “Ons het na die tyd saam gebid om vir die Here dankie te sê dat ek in Rio kan deelneem.”

“Die ervaring is absoluut ongelooflik. Dis ’n besonderede voorreg vol hoendervleis en emosies,” sê Anruné. Sy sê die atmosfeer is opwindend en dit is lekker om al die oppe én affe saam met haar spanmaats te ervaar. “Dis spesiaal om al die oomblikke te deel. Om saam te lag en te huil, want natuurlik is daar soms teleurstellings ook.”

Anruné het in 2012, by die Paralimpiese Spele in Londen ’n silwer medalje in die 200 m en ’n brons medalje in die 400 m gewen. Dié medaljes het in Desember 2013 tussen die George- en die O.R. Tambo-lughawe uit haar handbagasie verdwyn. Sy was op pad na ’n geselligheid in Kroonstad waar sy as gasspreker sou optree en het eers daar besef haar medaljes is weg.

Die Internasionale Paralimpiese-komitee het egter nege maande later haar medaljes vervang.

Anruné, wat in Kempton Park groot geword het en aan die Hoërskool Jeugland gematrikuleer het, het ook die week seker gemaak haar familie en vriende weet wanneer sy hardloop. Sy sê sy sien uit na die 200 m wat voorlê en gaan dan ook haar beste gee.

Suid-Afrika se paralimpiese span het al nege medaljes bymekaar gemaak:

  • Kevin Paul het goud gewen in die 100 m-borsslag vir mans (SB9).
  • Charl du Toit het goud gewen in die 100 m vir mans (T37).
  • Hilton Langenhoven het goud gewen in die verspring (T13) gewen.
  • lse Hayes het silwer verower in die 100 m vir vroue (T13).
  • Die 14-jarige Ntando Mahlangu het silwer gewen in die 200 m vir mans (T42).
  • Anruné Liebenberg het silwer gewen in die 400m vir vroue (T47).
  • Zanele Situ het brons gewen in die T54-kategorie van die spiesgooi.
  • Tyrone Pillay het brons gewen vir gewigstoot (F42).
  • Fanie van der Merwe het die brons medalje gewen in die 100 m vir mans (T37).