Meryl Streep haat dit steeds om die eerste resensies van haar optredes te lees nadat ’n teaterresensent van New York haar jare gelede mislik laat voel het.

Die ster van Florence Foster Jenkins het haar debuut by die Lincoln-sentrum in ’n opvoering genaamd Trelawny of The Wells gemaak toe die vreugde van die optrede skielik platval weens ’n gerekende kritikus se mening oor die uitvoering.

“Dit was ’n wonderlike rolverdeling met Mandy Patinkin, John Lithgow en Mary Beth Hurt. Min of meer almal van ons het vir die eerste keer opgetree,” het Meryl aan WENN gesê.

“Ons het voorskoue gehou. Die gehoor was gaande daaroor en het dit geniet, maar toe skryf John Simon, wat bekend was as vitterige resensent van New York Magazine, ’n k******** resensie. Nadat dit gepubliseer is, was die gehore oorbluf, want hulle is aangesê hoe hulle moes voel.

“Die verskil was merkbaar. Daarna het ek die kritici begin haat. Ek onthou die tyd dat jy in die stad New York opgetree en drie resensente regtig saakgemaak het: Clive Barnes, John Simon en Mel Gussow. Hierdie verskriklike angs kom eenvoudig oor jou en dan gaan koop jy die koerant. Dis so ouskool om soggens die koerant te kry en dis ’n mislike gevoel.”

Meryl se heel eerste verhoogoptrede in haar kinderjare was egter ’n onverwags aangename ervaring. “Ek was 15 en op hoërskool toe hulle my ’n rol gee in The Music Man,” onthou sy. “Ek was Marion, die bibliotekaresse, maar het geen ondervinding gehad nie. Ek was toe nog nooit op die verhoog nie. Ons het gerepeteer en my boetie het die rol vertolk van die kêrel wat Gary Indiana sing. Hy was werklik goed, maar ek het nie geweet wie ek was nie.

“Dis hoërskool. Die ouverture begin en al die ouers sit voor in die volgepakte gehoor. Ons het die musiekblyspel opgevoer en aan die einde het almal eenvoudig opgestaan. Dit was in die tyd toe hulle nie altyd opgestaan het nie. Deesdae staan almal altyd op, maar hier het hulle opgespring en ek het gedink: ‘Wat is hierdie golf wat na my toe aankom? Jitte, dit voel goed op jou vel.’ Dit was ’n oomblik toe ek niks verwag het nie.”

© Cover Media