Tog skrik dit werkers nie af nie. Hulle klouter soos insekte op en af teen die reuse koepel naby die plek waar Madiba begrawe gaan word.

’n Deel van die N2 tussen Mthatha en Qunu is vol slaggate weens die reën. Dit maak dit lewensgevaarlik om hier te ry. Gelukkig is die grootste deel van die pad pas opgeknap.

In ’n saal by die Nelson Mandela-museum op Qunu het sowat honderd inwoners bymekaargekom vir ’n gedenkdiens. Hulle volg ook die gedenkdiens in Soweto op ’n groot skerm. Maar die beeldsending word gedurig onderbreek weens die weer. Tussendeur preek en bid geestelike leiers. Elke dan en wan begin die teenwoordiges spontaan te sing. Buite is’n wit banier aangebring waarop mense boodskappe aan Madiba kan skryf.

[post-slider]

In kroeë, restaurante en kuierplekke in Mthatha het mense byeengekom om op die TV na die gebeure in die FNB-stadion te kyk.

Oral op Qunu en in Mthatha is verslaggewers uit alle wêrelddele besig om in die gietende reën te soek na gebeure om oor te berig. Daar is talle joernaliste wat kla hulle sukkel om akkreditasie by die Walter Sisulu Universiteit in Mthatha te kry. Almal is in afwagting oor die derduisende mense wat na verwagting van môre af na Qunu gaan stroom. Staatshoofde gaan op die Mthatha-lughawe land en ander belangrike persone sal van Oos-Londen en Port Elizabeth per luukse bus na Qunu aangery word. Die Mandela-familie kom ook van môre af op Qunu aan.

Deur Pieter van Zyl

Foto's: Martin de Kock