In die navorsing is bevind vroue wat die blink kant bo hou, het ’n beduidend laer risiko om weens verskeie ernstige siektes te sterf, vergeleke met vroue wat geneig is om die ergste te verwag.

Die bevindings van die ondersoek deur Harvard se T.H. Chan-skool vir openbare gesondheid is in die American Journal of Epidemiology gepubliseer. Dit dui op ’n verband tussen ’n hoë mate van optimisme en ’n laer risiko vir sterfte weens kanker, hartsiektes, beroerte, respiratoriese siekte en infeksies.

Die ondersoek het van 2004 tot 2012 geduur. Die navorsers het ’n vraelys gebruik om 70 021 vroue met ’n gemiddelde ouderdom van 70 volgens hul optimisme te beoordeel. In ’n opname elke twee jaar is die vroue gevra in hoe ’n mate hulle met ses stellings saamstem ten einde te bepaal hoe optimisties hul lewensbeskouing is.

Die navorsers het ook inligting ingewin oor ander faktore wat hul sterfterisiko kon beïnvloed, soos opvoedkundige en sosiaal-ekonomiese status, rook, ras, drankgebruik, kanker, hoe aktief hulle is, hipertensie en ander siektes, en leefstyl in die algemeen.

Die bevindings toon diegene wat die glas halfvol beskou, pleks van halfleeg, leef gesonder.

Die ondersoek toon optimiste het ’n amper 30 persent laer risiko as die pessimiste om weens enige van die siektes te sterf wat in die ondersoek ontleed is.

Die mees optimistiese vroue se kans om aan kanker te sterf, was 16 persent laer, weens hartsiektes 38 persent laer, weens beroerte 39 persent laer, weens ’n respiratoriese siekte 38 persent laer en weens ’n infeksie 52 persent laer.

Die verband tussen optimisme en verlaagde risiko vir kardiovaskulêre siekte was besonder sterk. Dié tussen optimisme en die risiko vir kanker was ook beduidend, maar ietwat swakker.

Terwyl ander ondersoeke al op ’n verband gedui het tussen ’n blymoedige lewensbeskouing en ’n verminderde risiko vir kardiovaskulêre probleme, is optimisme vir die eerste in verband gebring met ’n kleiner risiko vir ander siektes.

Dis nog nie wetenskaplik bewys nie, maar die veronderstelling is dat optimiste minder genitiewe gevoelens en spanning ervaar; daarom skei hulle minder stresverwante hormone af, soos kortisol en adrenalien wat bloeddruk verhoog.

In vorige studies is bevind dis betreklik maklik en goedkoop om mense meer optimisties te maak, het die medeleier van die navorsing, Kaitlin Hagan, gesê. “Dit kan selfs iets so eenvoudigs wees soos dat mense die beste moontlike uitkoms op verskillende lewensterreine, soos loopbaan en vriendskappe, neerskryf en daaroor nadink.”

Sy meen sulke eenvoudige stappe kan ’n vindingryke manier word om mense se gesondheid te verbeter.

Bronne: nytimes.com, hsph.harvard.edu, guardian.com