Hulle het die aap uit die mou gelaat deur die goeie nuus met Sarie.com te deel.

Ivan en Donnalee het verlede jaar in November begin uitgaan en in Mei vanjaar het Ivan in Nederland vir Donnalee die jawoord gevra, berig Sarie.

Donnalee se ouma Lenie kom van Holland en daarom wou Donnalee nog altyd Nederland besoek het.

Sy het haar twee oumas al in die sosiale media beskryf as twee van die elegantste, dapperste, inspirerendste en mooiste vroue (van binne en buite) wat sy ooit ontmoet het.

Holland you are just so unbelievably CHARMING!! ???? #ZaanseSchans

A post shared by Donnalee Roberts (@donnalee_r) on

Donnalee en Ivan het in Mei vanjaar verskeie pragfoto’s van hul spesiale tyd in Nederland gedeel. 

Donnalee was veral opgewonde om die land se pragtige tulpe van haar wenslysie af te merk. 

Die laaste klompie jare het Ivan en Donnalee al meer saam gewerk, spontaan dinge saam gedoen, saam verskyn by glansgeleenthede, gedurende vakansies oorsee en selfs verlede jaar op Kersdag.

JOY to the world ???????????? ...mag julle dag gevul wees met alles waarvan wonderlike herinneringe gemaak word!!

A post shared by Donnalee Roberts (@donnalee_r) on

Maar al was die vermoede oor ’n verhouding reeds lankal daar, het hulle tot vandag toe nie erken dat hulle ’n paartjie is nie.

Hul aanhangers het hulle die eerste keer saam op TV-skerms gesien as die paartjie Pieter en Annelie in die SABC2-sepie 7de Laan. 

Toe albei 7de Laan groet, het hulle begin saam werk as vennote as akteurs, skrywers en vervaardigers. Gou het hulle bekend geword  as die silwerdoek se goue paartjie.

Hulle het in 2014 sukses behaal met die die uitreiking van hul eerste gesamentlike projek, die fliek Pad na Jou Hart, wat in sy openingsnaweek R3,1 miljoen verdien het. Hierin het hulle die paartjie Basson jr. en Amorey vertolk.

Die grootste sukses sou twee jaar hierna volg toe hulle Vir Altyd se draaiboek geskryf en vervaardig het – en boonop te sien was in die hoofrolle as Hugo en Nina.

Hulle het verlede jaar vir hul toneelspel in dié romantiese avontuurliek die Huisgenoot Tempo-prys vir die rolprentakteur en -aktrise van die jaar gewen.

Vir Altyd het loketrekords laat spat toe dit die grootste openingsnaweek vir ’n Afrikaanse fliek geniet het.

Ná dié sukses het hulle vir die eerste keer saam op die verhoog verskyn as Jasper en Fransie in die produksie Beurtkrag. Hulle het tot onlangs landwyd met dié verhoogproduksie getoer.

Baie geluk met die goeie nuus van julle verlowing, Donnalee en Ivan!