Die Wes-Kaapse regering het Maandag die Wes-Kaap in sy geheel tot rampgebied verklaar na aanleiding van die voortslepende droogte wat die provinsie na reën laat smag.

Die aankondiging is deur die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, gedoen.

Die besluit is geneem om die reaksietyd te verhaas vir die herontplooiing van bronne om die waterskaarste die hoof te bied, het Alan Winde, Wes-Kaapse LUR van ekonomiese geleenthede, aan News24 gesê.

Die stap behels onder meer dat die huidige watertoevoer vanaf die onderskeie bronne beter bestuur sal word. Dit mik ook om die waterbronne so te bestuur dat daar nie gedurende die droër maande ’n ramp kan volg nie selfs al begin die damvlakke styg.

Hierdie besluit volg nadat die provinsiale kabinet die stap reeds verlede week aanvaar het. Dit sal later vandeesweek amptelik bekragtig word. Verbruikers word ernstig gemaan om met voorgeskrewe waterbesparingsmaatreëls voort te gaan en streng waterbeperkings te gehoorsaam.