[caption id="attachment_134754" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie: Pixabay Foto ter illustrasie: Pixabay[/caption]

Nie net stel dié wonderlike stukkie tegnologie jou in staat om permanent met jou vriende op Facebook kontak te hê of Karlien van Jaarsveld op Instagram dop te hou nie; oor die afgelope 25 jaar het die internet ook op ander gebiede ’n wonderlike bydrae gelewer.

“Die internet is nie net daar vir sosiale media nie,” sê prof. Basie von Solms, ’n kenner van kuberveiligheid by die Universiteit van Johannesburg. “Dit het baie bygedra tot ekonomiese handel oor landsgrense. Besighede en mense kan met gemak goedere koop en verkoop sonder dat landsgrense hulle inperk,” sê hy.

Hy sê die internet is ook vir die mediese wêreld van groot waarde. “Dokters kan nou danksy die internet ’n toestel installeer om mense se bloedsuikervlak te reguleer. Hulle kan op die internet dophou en besluit of hulle ’n pasiënt se insuliendosis wil verhoog of verlaag – sonder dat die mens na sy spreekkamer hoef te gaan vir ’n konsultasie.”

Volgens Basie het die internet ook die onderwys help verbeter. “Danksy Skype kan onderwysers in Amerika nou vir kinders in Afrika klasgee. Niemand hoef iewers heen te vlieg nie.”

Nog voordele van die internet

? Danksy GPS en Google Maps kan ’n mens met gemak van een plek na ’n ander ry sonder om ’n padkaart oop te slaan.

? Jy hoef nie meer van die een winkel na die ander te ry nie; jy kan oor die internet inkopies doen.

? Lang rye by die bank is iets van die verlede, want jy kan al jou betalings aanlyn doen.

? Mense kan op forums en Facebook-groepe maatskaplike probleme in en om hul gemeenskap bespreek.

? Die nuus is ’n klik weg. Jy hoef nie meer tot die volgende oggend te wag om die koerant te kry nie. Brekende nuus is dadelik beskikbaar.