Die vier lede van One Direction het gister op Twitter ’n aankondiging gemaak wat tot massahisterie onder hul aanhangers gelei het – ’n nuwe album is op pad.

Die Britse groep, wat bestaan uit Harry Styles, Niall Horan, Liam Payne en Louis Tomlinson, het ook die uitreikingsdatum vir die album bevestig: 13 November. Die album, Made in the A.M., sal die groep se eerste wees sedert Zayn Malik die groep in Maart verlaat het.

Dis ook hul laaste album voor hulle in Maart 2016 ’n blaaskans neem.

Liam het al oor hul eersdaagse ruskans gepraat en gesê dis onvermydelik dat die groeplede verskillende rigtings gaan inslaan en op soloprojekte gaan fokus. Maar hy het benadruk hul paadjies skei nie finaal nie en dat hulle bloot ’n “welverdiende blaaskans” neem.

“Dis vyf jaar later en dis tyd om te rus,” het hy aan die tydskrif Attitude gesê.

“Natuurlik sal ons weer saamwerk; ons paadjies skei nie. Ek besef nou is die tyd om ’n bietjie ons vlerke te sprei. Dit gaan nie vir altyd hou nie en daar gaan ’n punt kom waar ons paaie gaan skei en ons ons eie ding gaan doen, maar ons sal weer saamwerk. Ek wil elke deel van die bedryf leer ken. Ek het al countryliedjies geskryf. Ek het begin deur te rap. Dis waar my kop is.”

Tesame met die nuus oor die album het One Direction ook bekendgemaak die liedjie Infinity, wat op Made in the A.M. verskyn, word op 22 September uitgereik. Die aankondigings kom voor die groep by die bekende Roundhouse in Londen by die Apple-musiekfees gaan optree.

Daarna tree hulle ses aande by The O2 Arena op as deel van die Britse been van hul toer On The Road Again. Die nuwe album gaan beslis ’n treffer wees – die trefferliedjie Drag Me Down – wat in Julie uitgereik is – is die eerste enkelsnit van die album.

Die ouens gaan kwaai mededinging kry as hulle die trefferslyste wil oorheers, want Justin Bieber het verlede maand aangekondig sy nuwe album word ook op 13 November uitgereik.

© Cover Media