Volgens bewerings Sondag het die popgroep, wat bestaan uit Harry Styles, Liam Payne, Niall Horan en Louis Tomlinson, besluit om in 2016 tydelik te ontbind.

Aanhangers van One Direction wil egter niks hiervan weet nie want hulle kan dit nie verdra dat hul geliefkoosde sangers se paaie moontlik moet skei nie.

“Nee, nee, nee, nee, as One Direction skei, sal ek nooit weer gelukkig wees nie,” het @_mirrinn op Twitter verklaar, terwyl @EmmaEllis_ soortgelyke gevoelens met haar twiet, wat lui: “Ek wil nou nie hiperdramaties klink nie, maar dit is verby met One Direction, en my hele lewe is daarmee heen,” geuiter het.

Die nuus oor die ontbinding van One Direction kom slegs 'n paar maande nadat bewonderaars 'n ander terugslag ervaar het toe Zayn Malik in Maart besluit het om die manne-groep te verlaat om 'n soloberoep te volg.

Maar daar word beweer dat die toekomstige breuk in One Direction nie veroorsaak is deur persoonlike konflik nie.

“Die manne is reeds vyf jaar bymekaar as groep en dit is 'n ongelooflike speelvak vir enige band. Hulle verdien beslis die kans om vir ten minste 'n jaar elkeen aan sy eie projekte te werk. Daar is absoluut geen kwade gevoelens tussen hulle nie en almal stem 100 persent saam met die besluit,“ het 'n bron aan The Sun, 'n koerant in die VK, gesê.

“Dit is beslis nie 'n breukspul nie en hulle is vasberade om die een of ander tyd in die toekoms weer saam op te tree.

“Maar dit is vir eers die einde en hulle gaan uiteen op 'n hoogtepunt as die gewildste musiekgroep ter wêreld.”

One Direction tree tans wêreldwyd op as deel van hul On the Road Again-toer en hulle is besig met die opname van hul vyfde ateljee-album. As die gerugte van die breuk egter waar is, gaan hulle nie 'n konserttoer met hierdie album aanbied nie.

Dit beteken dat hul laaste optrede vir die voorsienbare toekoms op 31 Oktober in die Motorpoint-arena in Sheffield sal plaasvind.

© Cover Media