Net die gedagte om ’n dik pels te hê in hitte van 35 °C is genoeg om ons in sweet te laat uitslaan, maar diere se pels hou hulle inderwaarheid koel.

'’n Troeteldier se pels is soos isolering vir jou huis.'

“’n Troeteldier se pels is soos isolering vir jou huis,” sê dr. Louise Murray, veearts en skrywer van Vet Confidential: An Insider’s Guide to Protecting Your Pet’s Health.

“Isolering verhoed dat jou huis in die winter te koud raak, maar keer ook dat dit in die somer oorverhit. Jou troeteldier se pels verrig dieselfde funksie.”

As jy hul pels afskeer, kan dit inmeng met hul ingeboude temperatuurregulering. Veral katte is baie goed met temperatuurregulering en “vind eintlik glad nie baat daarby om geskeer te word nie”, sê die veearts Mark Stickney Katte raak ook baie makliker van ekstra liggaamshitte ontslae, en omdat hulle amper

altyd meer beweeg as honde, kan hulle eenvoudig na ’n skaduryker kol beweeg wanneer dit warmer raak.

As jy jou kat se pels gereeld borsel en dit deeglik ná ’n bad droogmaak, sal dit keer dat dit koek en sorg vir ’n gelukkige kat met ’n gladde pels.

Honde se pels

Honde soos poolhonde (huskies), het pelse met verskeie lae en dis noodsaaklik vir hul gemak in die hitte. As jy jou hond sy natuurlike afkoelingstelsel ontneem, kan dit lei tot ongemak en oorverhitting.

Jou hond se pels keer ook dat hy sonbrand opdoen (poolhonde is veral kwesbaar hiervoor) en dit beskerm hom teen velkanker. As die pels te kort geskeer word, kan dit die lang, growwe buitenste pels wat die onderpels beskerm, onder die vel laat vassit. “Daar sal nie nuwe pels groei tot die buitenste pels uitval nie, en dit lei tot onreëlmatige haargroei en velprobleme,” sê Linda Easton, ’n internasionaal gesertifiseerde meesterversorger.

Nes met katte, sal gereelde borsel ontslae raak van enige los onderpels, ’n gekoek voorkom en jou hond se pels in ’n uitstekende toestand laat

KOEL VEILIG AF

Swem is ’n wonderlike manier om af te koel saam met ons honde, maar dis belangrik om voorsorg te tref om ongelukke te verhoed. Hier is ’n paar dinge om in gedagte te hou:

  • Nie alle honde weet hoe om te swem nie. Klim in saam met ’n beginner en ondersteun hom tot hy ontspanne is en met selfvertroue met sy voorste en agterste pote swem. Maak seker jou hond weet waar die trap is – plaas ’n groot potplant daar sodat hy ’n baken het om voor te mik.
  • Party rasse het dalk reddingsbaadjies nodig. Honde met ’n breë bors en kort pote, soos bulhonde, Skotse terriërs en mopshonde, en honde wat met die oë jag, soos windhonde en miniatuurwindhonde, sal dalk hulp nodig hê om drywend te bly.
  • Rig ’n heining op en kry ’n net vir die swembad. Moenie honde sonder toesig by die swembad toelaat nie, veral klein of ouer honde en honde wat aan epilepsie ly.
  • Gee jou hond sy eie swembad. Los ’n harde plastiekswembad gevul met water in ’n skadukol sodat jou hond veilig kan afkoel terwyl jy nie by die huis is nie.