Sukkel jy om te slaap? Sowat 16 miljoen voorskrifte vir slaappille word jaarliks uitgeskryf, maar wag, en lees hier, voor jy sluk. Kenners waarsku slaappille kan hoogs verslawend wees en is boonop uiters gevaarlik is vir jou hart en asemhaling, en dit kan tot psigose aanleiding gee.

Het jy ’n probleem?

Kenners meen as jy twee of meer van die volgende simptome het, is dit moontlik tyd vir raad of hulp:

  • Dis moeilik om sonder die slaapmiddel klaar te kom.
  • Jy kry onttrekkingsimptome wanneer jy die middel staak of selfs die dosis verminder.
  • Jy is bereid om die wet te oortree of oneties op te tree om die middel te bekom.
  • Jy stel glad nie meer belang in jou stokperdjies nie.
  • Jy kom nie meer persoonlike of sosiale verantwoordelikhede na nie.
  • Jy ontken steeds jy het ’n probleem.

Wat is die alternatief?

  • Kruie: Verskeie kruie soos kamille, valeriaanwortel, kava-kava, suurlemoensap-balsem en laventel word aanbeveel vir slapeloosheid.
  • Melatonin: Die natuurlike hormoon kom in die liggaam voor, maar kan ook in pilvorm sonder voorskrif gekoop kan word.
  • Kognitiewegedragsterapie (CBT): Dis ’n eenvoudige behandeling wat jou slaap kan verbeter deur jou gedragspatrone, bekommernisse en gedagtes voor slaaptyd te verander. Dit konsentreer ook op ontspanningsvaardighede en slaappatrone.

Beproef ook dié wenke:

1. Kry ’n slaaproetine:Probeer elke aand dieselfde tyd gaan slaap en elke oggend dieselfde tyd opstaan.

2. Vermy middagslapies:Moenie bedags ’n uiltjie knip nie, dit ontwrig net jou normale slaappatroon en sorg dat jy saans wawyd wakker is. Nuwe ma’s met baba’s wat nog nagvoedings moet kry, is beslis ’n uitsondering hierop.

3. Skep ’n goeie atmosfeer:Omskep jou slaapkamer in ’n kalm, stil plek waar jy kan rus. Moenie televisie in jou kamer kyk of enigsins voor die rekenaar sit nie. Gebruik jou slaapkamer net vir slaap en lees.

4. Ontspan:Vestig roetines wat jou laat ontspan voor jy gaan slaap. Ontwikkel tegnieke wat jou laat ontspan en doen dit voor jy gaan slaap. Dit kan joga, diep asemhaling of meditasie insluit.

5.  Kry jou gedagtes reg:Vermy slegte nuus voor slapenstyd, as jy kan. Moet dus nie voor slapenstyd die koerant lees of ’n gewelddadige program kyk nie, want dit laat jou moeiliker aan die slaap raak.

6. Skryf ’n doen-lysie:Dink na oor alles wat jou pla voor jy bed se kant toe staan. Skryf die volgende dag se doen-lysie neer of enige bekommernisse wat jy het. Dit sal jou daarvan help vergeet. 7. Oefen gereeld:Dit hou jou verstand en liggaam gesond, maar moenie straf oefen kort voor slapenstyd nie. 8. Vergeet van tyd:Moenie snags die horlosie lê en dophou nie; jy gaan dan net die ure aftel en angstig voel. Staan liewer op en gaan doen iets anders wat jou laat ontspan en moeg maak. 9.  Eet en drink reg: Voeg meer melk, eiers, hoender en vis by jou dieet. Dit is almal bronne van die aminosuur triptofaan wat ’n kalmerende uitwerking op jou uitoefen en jou lekker laat slaap. Drink ook saans liewer kruie tee of warm drankies as koffie of stimulerende drankies om ontspanning te bevorder.

10. Vermy stimulante:Alkohol en sigarette hou mens snags wakker.

Hoe gemaak met verslawing?

As jy vermoed jy het ’n verslawing, kry hulp. Jy hoef dit nie alleen te hanteer nie! Bel gerus die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) by 011-262-6396 of 0800-20-50-26. Dié organisasie het opgeleide beraders wat 24 uur per dag beskikbaar is om jou te help.

 - Janine Nel

Ekstra bronne: health24.com, wedoorecover.com, sadag.org