Altesaam 20 000 huise is verwoes en 130 000 mense is dakloos gelaat in Mosambiek weens die tropiese sikloon Dineo, het dié land se nasionale noodoperasie-sentrum (Cenoe) Donderdag gesê.

Hulle het in ’n verklaring gesê 105 skole, 40 hospitale en 52 ander openbare geboue is ook vernietig.

KLIK HIER om Dineo, nou bekend as eks-Dineo, se spoor te volg.

Maar die gees van die eienaars van talle droomvakansie-bestemmings is egter nie geblus nie al gaan dit lank duur om die skade te herstel.

“Dit breek jou hart om dit te sien! Dit gaan beslis nie die einde wees nie. Hierdie is ’n nuwe begin vir Paindane!” lees die inskrywing op dié oord se Facebook-blad.

Daar is ook met ’n GoFundMe-blad begin vir die Guinjata-duiksentrum in Inhambane.

Lynn Retief het foto’s gedeel van wat oorgebly het van dié sentrum wat spesialiseer in duik-ervarings vir mense met gestremdhede. “Ons sentrum bestaan nie meer nie,” het sy geskryf.

Sy het ook haar waardering vir almal se ondersteuning uitgespreek en genoem dat dit die tweede keer is dat dié sentrum herbou moet word.

Lynn het hierdie video gedeel van hul huis die dag nadat Dineo verwoesting gesaai het.
Die eienaars van Zavora Lodge en Zavora Divers, ook in Inhambane, Mosambiek, hoop om goed reg te maak en gou weer operasioneel te wees.

Bron: News24