Altesaam 20 000 huise is verwoes en 130 000 mense is dakloos gelaat in Mosambiek weens die tropiese sikloon Dineo, het dié land se nasionale noodoperasie-sentrum (Cenoe) Donderdag gesê.

Hulle het in ’n verklaring gesê 105 skole, 40 hospitale en 52 ander openbare geboue is ook vernietig. Die sikloon het Suid-Afrika ook Donderdag getref en dele van Mpumalanga, Kwazulu-Natal en Limpopo direk geraak.
Storms sal na verwagting tot Saterdagaand voortduur. Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake het gesê tot 200 mm reën in 24 uur en ’n windspoed van net onder 100 km/h kan verwag word. “Die moontlike impak is wydverspreide oorstromings wat kan lei tot skade aan paaie en brûe, en dus gemeenskappy kan afsny, ander haweloos kan laat en druk op nooddienste kan plaas,” het die departement in ’n verklaring gesê.
Die departement het ouers, versorgers en voogde aangemoedig om hul kinders se veiligheid te verseker. En mense gewaarsku om nie oorstroomde paaie, brûe en riviere oor te steek nie. Ses sentimeter van vinnigbewegende vloedwater kan ’n persoon van hul voete afslaan. Soos deur verskeie in die sosiale media uitgewys is, is hierdie video nie tydens Dineo se besoek aan Mosambiek geneem nie. Dit illustreer wel die risiko verbonde aan die oorsteek van oorstroomde brûe.
Hulle het ook ’n beroep op mense gedoen om hul huise onmiddellik te ontruim indien dit aanbeveel word.
Rampbestuurspanne is op bystand.

“Dis bemoedigend dat ander provinsies soos Gauteng, Vrystaat, die Wes-Kaap en die Noordwes onderneem het om die provinsies te help wat hierdeur geraak word,” het die departement gesê.

Bron: news24.com