Dis reg: Nokia.

Die ikoniese Finse handelsmerk is terug. Sedert middel vanjaar het dit ’n nuwe eienaar, HDM Global, wat ’n lisensiëringsooreenkoms gesluit het vir die alleengebruik van die Nokia-naam op mobiele fone en tablette vir die volgende dekade.

Dié wat nostalgies raak oor byvoorbeeld doeriejare se onbreekbare Nokia 3310, met sy battery wat skynbaar nooit pap geraak het nie, sal dalk bly wees om te hoor HDM het nou die eerste nuwe Nokia-foon bekendgestel.

Oukei, die Nokia 150 is allesbehalwe ’n slimfoon (hoewel HDM ook slimfoonplanne vir 2017 het).

Trouens, sommige noem die 150 ’n “dumb phone”. Maar dit fokus juis op die eienskappe wat Nokia se sogenaamde feature phones (gewone selfone) so gewild gemaak het, soos betroubaarheid, superdoeltreffende batterygebruik en eenvoud.

 

Die foon, wat teen sowat R367 bemark sal word, bied byvoorbeeld geen raakskerm, internettoegang of selfie-kamera nie.

Dit het wel onder meer ’n VGA-kamera met ’n LED-flits agterop, jy kan jou kiekies en videogrepe deur Bluetooth deel, dit het batterygebruik van ’n ongelooflike 22 uur kletstyd (25 dae op bystand) en jy kan dit maklik herlaai danksy ’n mikro-USB-koppelpunt.

’n Ingeboude MP3-speler en luidspreker agterop verskaf ook goeie klank vir musiek, en dan is daar natuurlik die ingeboude FM-radio en flitslig. Aanhangers van klassieke mobiele speletjies kry boonop Snake Xenzia of Nitro Street Racing van Gameloft op die koop toe.

Die ontwerpers (HDM se mense bestaan grootliks uit voormalige Nokia-werknemers) meen ook die klassieke ontwerp sal aftrek kry en sê ’n spesiale polikarbonaat-dop laat die fone hul kleur behou en krapvry bly, “ongeag wat met hulle gebeur”.

Tegnologiebeheptes het natuurlik baie te sê gehad oor Nokia se terugkeerfoon. “Hulle het vasgesteek in die verlede”; “waar is die innovering?” en “hulle kon beter gedoen het”, en so aan.

Sommige ontleders reken egter dis eintlik ’n slim manier om die bedryf  weer aan te durf. Buiten dat daar in ontwikkelende lande altyd ’n groot mark vir so ’n bekostigbare foon met so ’n naam sal wees, toon navorsing ook dit kan weerklank vind by sogenaamde “refuseniks” in ryker lande: ouens wat die hele tegnologie- en sosialemedia-tsoenami verpes en trots is op hul gebrek aan konnektiwiteit, maar steeds iets betroubaars soek om byvoorbeeld mee te bel.

Bronne: nokia.com, hdmglobal.com, phoneradar.com, youtube.com