Dit is een van vanjaar se opwindendste ontwikkelinge hier by ons – Huisgenoot raak e. Ja, dis reg, Huisgenoot is digitaal. Jy kan nou elke Vrydagoggend jou tydskrif aflaai.

Jy hoef nie meer winkel toe te piekel of te wag dat die tyd-skrif in jou posbus val nie.

Die e-weergawe van Huisgenoot is einde Oktober bekendgestel en so stil-stil is daar reeds merkwaardige reaksie – lesers van so ver as Italië, Nederland en Oostenryk het al die tydskrif afgelaai.

En as jy inteken, hoef jy dit nie eens af te laai nie, want jou Huisgenoot sal outomaties daar wees.

Die elektroniese weergawe van Huisgenoot word op die digitale uitgewer Zinio gepubliseer en jy moet daar registreer om dit te kan koop.

As jy ’n kalahari.net-rekening het, kan jy ook die e-tydskrif daar koop en hulle sal jou na Zinio deurskakel, waar jy dit aflaai.

Maar wat kry jy met die e-weergawe van Huisgenoot? Alles wat jy met die gedrukte een kry. Elke advertensie, elke foto, elke woord – dis letterlik die hele tydskrif, maar nou op jou rekenaar of e-leser.

Jy kan een uitgawe koop of vir ’n jaar inteken, en dit kos dieselfde as die gedrukte weergawe. Hoekom is dit dan nie goedkoper nie, wonder sommige mense. Dit is omdat aanlyn-tydskrifte ook hul eie ekstra kostes het, soos om Zinio te betaal vir sy diens. “Daarby moet ons bandwydte-koste dek,” verduidelik Rudi Hofmeister,’n sakebestuurder van Media24 se Gesinstydskrifte-afdeling.

’n Subskribsie vir ’n digitale Huisgenoot is ’n baie oulike Kersgeskenk, veral vir geliefdes wat oorsee woon, en dis boonop net betyds vir Kersfees.

Sien die stap-vir-stap verduideling van hoe dit werk in Huisgenoot, 16 Desember. Of KLIEK HIER om die artikel in pdf-formaat te lees.

KLIEK HIER as jy na Huisgenoot op Zinio se webwerf wil loer. Jy kan ook Zinio se skakel volg: http://gb.zinio.com/browse/publications/index.jsp?productId=500604900&sch=true.