’n Multi-dissiplinêre taakspan is op die been gebring om ’n rooftog by die kantore van die hoofregter vroeg Saterdagoggend in Midrand te ondersoek, het waarnemende nasionale polisiekommisaris, lt.genl. Khomotso Phahlane, bevestig.

’n Totaal van 15 rekenaars met vertroulike inligting oor al Suid-Afrika se regters, hul spanne en al die howe landwyd is gebuit.

Volgens Khomotso word die span gelei deur maj.genl. Mary Motsepe, die adjunk provinsiale kommisaris van misdaadopsporing in Gaunteng.

Die polisie sien die inbraak by Mogoeng Mogoeng se kantore as ’n aanval op die regstelsel, het Khomotso bygevoeg.

"Ons veroordeel die insident en ’n span werk al om die uur met die doel om die skuldiges vas te trek."

Khomotso het ook gesê sekuriteit by die hoofregter se kantore sal ondersoek word met die doel om dit binnekort op te skerp.

Die ondersoek daarna duur voort, het hy gesê.

In ’n afsonderlike voorval is ’n regter van die hooggeregshof in Gauteng-Suid gister by sy huis beroof. Hierdie saak word ook deur die polisie ondersoek.

Bron: News24