Die waarheid het uitgekom toe die “Afrika-leeu” begin blaf. Die dieretuin in Luohe, in die sentrale provinsie Henan, het eksotiese diere met doodgewone spesies vervang, berig die staatsbeheerde Beijing Youth Daily.

’n Dieretuinganger met die van Liu wou hê haar seun moes die verskillende dieregeluide hoor, maar toe hulle by die “Afrika-leeu” se hok kom, het die dier daarin begin blaf. Die dierasie was toe ’n Tibettaanse slagtershond, ’n groot langhaarhond.

“Die dieretuin mislei ons,” het Liu, wat sowat R21 per kaartjie betaal het, aan die koerant gesê. “Hulle probeer selfs om honde as leeus te vermom.”

Die ander spesies wat verkeerdelik vertoon is, was twee bewerrotte in ’n slanghok, ’n wit jakkals in ’n luiperdhok en ’n hond in ’n wolfhok.

Die hoof van die park se diere-afdeling, Liu Suya, het aan die koerant gesê hulle het ’n leeu, maar dis na ’n teelfasiliteit geneem en dat die hond, wat aan ’n werknemer behoort, weens veiligheidsredes tydelik in die hok gehuisves is.

Van die gebruikers van China se Twitter-agtige Sina Weibo-diens het met die dieretuin die spot gedryf.

“Dis glad nie snaaks nie. Dis hartseer vir die dieretuin en vir die diere,” het een gesê. “Hulle moes ten minste ’n husky gebruik het om voor te gee hy is ’n wolf,” het iemand anders gesê.

– Sapa

sapalogo