Op Maandag 28 November het die jongeling se wêreld in skerwe gespat. Van sy silwer fiets was daar geen teken nie. Sy ma, Una Magee Brewster, het dadelik op Facebook ’n hartstogtelike pleidooi gelewer waarin sy vertel waarom daardie fiets so spesiaal is.

“Jy het meer hartseer vir ’n kind besorg wat môre die nagmerrie sal onthou wat ’n jaar gelede afgespeel het – een wat geen kind ooit moet ervaar nie; die verlies van ’n pa.”

Una skryf voorts die fiets was ’n geskenk van sy pa en sluit haar versoek af met: “As jy enigsins ’n hart het, bring asseblief die fiets terug en niemand sal weer daaroor praat nie.”

Was die fietsdief dalk iemand in haar vriendekring of het hy dalk van haar versoek deur iemand anders te hore gekom?

Die plasing is deur meer as 1 000 mense gedeel. Daar was ook talle aanbiedings om die fiets te vervang. Maar dit sou nie dieselfde fiets gewees het nie . . .

Op 1 Desember het sy die “wonderwerk” op haar Facebook-blad aangekondig.

Iemand het James se silwer fiets teruggebring!

“Wat ’n pragtige einde vir hierdie storie en een wat ek geglo het sal gebeur,” skryf sy by ’n video van James se hartroerende reünie met sy fiets.

Una het gesê dit was die eerste keer in dae dat James gehuil het.

Wat het James te sê? Hy het aan The Belfast Telegraph gesê hy kon eers nie glo sy fiets is regtig daar nie.

“Ek het gedink ek droom. Dit was die laaste geskenk wat my pa vir my gegee het.”

Bronne: dailymail.co.uk, armaghi.com, itv.com, belfasttelegraph.co.uk