Ons nuwe blogger oor dieetkundige sake, Liezel Engelbrecht, gesels met gesondheidskenners in 'n splinternuwe reeks, eksklusief hier op Huisgenoot.com.

LIezel Engelbrecht, ons dieet-blogger

Deesdae hoor ons baie geraas oor gesondheid. Daar is gesondheidsghoeroes, superkoskenners en ontdekkers van gewigsverliesgeheime wat ons voorsê. Maar ongelukkig spring die gesondheidsveld ook nie “vals nuus” vry nie. Daarom dié blog.

Die stories is nie noodwendig sensasioneel nie, maar die feite kom van gesondheidskenners en word gestaaf deur wetenskaplike navorsing.

’n Vriendin met hoë cholesterol het my aangepor om dié onderwerp aan te pak. Sy is een van miljoene Suid-Afrikaners wat daarmee sukkel, en hoë cholesterol dra in ’n groot mate by tot die ontstaan van hartsiektes.

Na beraming het een uit elke 4 mense in Suid-Afrika ’n cholesteroltellling van bo 5 mmol/l (die afsnypunt vir ’n normale telling), en 1 uit elke 2 mense het lae “goeie” HDL-cholesterol.

Dit beteken dit kan op die oog af lyk of jou cholesterol normaal is, maar dit is dalk net jou ‘goeie’ HDL-cholesterol wat laag is terwyl jou ‘slegte’ LDL-cholesterol eintlik abnormaal hoog is,” verduidelik Gabriel Eksteen, geregistreerde dieetkundige en hoof van die voeding- en oefeningseenheid van die Hart- en beroertestigting van Suid-Afrika.

Ek het vir Gabriel ’n paar vrae gevra om die basiese elemente van cholesterol onder die knie te kry.

WAT IS CHOLESTEROL?

“Cholesterol is ’n noodsaaklike vetterige komponent wat die liggaam nodig het om onder meer selmembrane en ander liggaamsmolekules te bou. Dit is ook ’n voorloper vir sekere hormone, byvoorbeeld geslagshormone soos testosteroon by mans en estrogeen by vroue.”

WAAR KRY ONS CHOLESTEROL?

Jou liggaam vervaardig ongeveer 90% van jou cholesterol self, hoofsaaklik in die lewer. Die oorblywende 10% kom van die dierprodukte wat ons eet, soos hoender, rooivleis en suiwel. ’n Veganis se metabolisme sal aanpas en 100% van sy of haar eie cholesterol vervaardig. Dit is dus nie noodsaaklik om cholesterol deur jou dieet in te neem nie.”

HOEKOM IS HOË CHOLESTEROL JUIS SLEG?

“’n Mens kan  onderskeid tref tussen sogenaamde ‘slegte’ cholesterol (LDL) en ‘goeie’ cholesterol (HDL). LDL en HDL verwys in werklikheid na die hoeveelheid cholesterol wat vervoer word deur twee verskillende vervoer-proteïene.

“Sogenaamde slegte cholesterol word vanaf die lewer na die res van die liggaam versprei. Let wel dat dit net sleg is as daar te veel is.

Goeie cholesterol, daarenteen, versamel die oortollige cholesterol wat in die liggaam afgelewer is en in die bloedvate opbou, en bring dit terug na die lewer, waar dit dan afgebreek, herwin of uitgeskei word.

Hoë cholesterol beteken dat daar te veel cholesterol in jou bloed is. Dit verhoog jou kanse om aterosklerose te ontwikkel, dit is wanneer cholesterol in jou are begin aanpak en jou aarwande verhard. Dit veroorsaak dan ’n vernouing in jou are, wat die bloedvloei in jou liggaam moeiliker maak en die kans op hartsiektes en beroertes verhoog.

“Hoë cholesterol is egter nie die enigste faktor wat kan lei to aterosklerose nie, maar dit is een van die sleutelaandrywers daarvan.

“Rook en stres dra onder meer ook by tot inflammasie in die liggaam, wat aterosklerose aanhelp.”

WATTER INVLOED HET KOS?

“Die tipes vet wat jy eet, het ’n invloed op jou cholesterolvlakke. Versadigde vette, soos wat in rooivleis, diervet en volvet-suiwelprodukte voorkom, is geneig om ‘slegte’ LDL cholesterolvlakke te verhoog. Ons weet nog nie presies hoe dié meganisme werk nie, maar navorsing toon dat te veel van dié produkte wel jou cholesterol opstoot.

“Eiers bevat byvoorbeeld ses keer meer cholesterol as vetterige rooivleis, maar dit het net ’n geringe invloed op bloedvette, daarom speel cholesterol in kosse nie so groot rol soos versadigde vette nie.

Deur versadigde vette te vervang met mono-onversadigde vette, soos dié wat in avokado’s, amandels, grondbone, olyfolie en ander plantolies voorkom, kan jy jou ‘goeie’ HDL cholesterol verhoog en jou LDL verlaag.”

WATTER INVLOED HET JOU GENE?

“Elke mens se liggaam is uniek. In sekere mense sal cholesterol van versadige vette in hul dieet net ’n geringe verskil maak, maar in ander mense kan die uitwerking van kos baie meer betekenisvol, en dus gevaarlik, wees.

“Suid-Afrika het ook ’n groot aantal mense met familiale hipercholesterolemie, ’n genetiese ontvanklikheid vir baie hoë cholesterolvlakke. Een uit elke 50 mense van Nederlandse herkoms sukkel met dié probleem en in sulke gevalle sal blote dieetaanpassings nie kan help om cholesterol te verlaag nie.”

WATTER INVLOED HET JOU GEWIG OP JOU CHOLESTEROL?

As jy ekstra gewig ronddra, veral om jou maag, verander jou liggaam se metabolisme en is jy  meer geneig om insulienweerstandig te word. Dít veroorsaak dan dat jou liggaam meer op vet staatmaak vir energie, wat dan op sy beurt daartoe lei dat die manier waarop vet deur die ligaaam vervoer word, begin verander.

Goeie cholesterolvlakke (HDL) neem dan tipies af en trigliseriede (nog ’n tipe vet wat  aterosklerose van jou are kan versnel as daar te veel in sirkulasie is), neem toe.

“In mense wat oorgewig of diabeties is, is dit dus belangrik om nie net na die totale cholesteroltelling te kyk nie, maar spesifiek na die uitslae van ’n volledige bloedvettoets te kyk. Dit is omdat die totale vlakke normaal kan lyk, maar in werklikheid is dit net as gevolg van die HDL wat laag is, maar inderwaarheid is die LDL en trigliseriede baie hoog.”

IS DAAR ENIGE SIMPTOME VAN HOË CHOLESTEROL?

Nee, gewoonlik glad nie. In uiterste gevalle kan ’n mens vetaanpaksels op die vel sien in die oogarea of op gewrigte, maar dis nie algemeen nie. Dis dus belangrik om ná die ouderdom van 20 elke 3 tot 5 jaar jou cholesterol te laat toets. As jou telling ooit bo 5 mmol/l is, moet jy ’n volle bloedvettoets (lipogram) laat doen om te kyk wat jou HDL-, LDL- en trigliseriedtellings onderskeidelik is.”

KAN 'N MENS VOORKOM DAT JY HOË CHOLESTEROL KRY?

Deur gesonde eetgewoontes te volg, kan die meeste mense hul cholesterolvlakke onder beheer hou. Dié riglyne is eenvoudig: eet baie veselryke produkte soos hawermout en groente, volgrane, bone en peulgroente. Hierdie kosse help nie net om jou slegte cholesterol te verlaag nie, maar verhinder ook die herabsorpsie van cholesterol in die spysverteringskanaal.

“Probeer ook om minder rooivleis te eet, verkieslik nie meer as twee keer per week nie.

“Daar is nog ’n vraagteken oor die invloed van suiwel op cholesterolvlakke, maar vir nou wys navorsing dat laervet-opsies steeds die veiligste is. Eiers (sowat 7 per week) is ook aanvaarbaar, tensy cholesterolvlakke te hoog is.

“Verander die tipe vette wat jy eet en kies eerder mono-onversadigde vette en poli-onversadigde vette (ook in die meeste neute, sade en vis soos snoek, makriel en sardyne) pleks van versadige vette.

Oefening, veral weerstandsoefeninge (byvoorbeeld met gewigte of jou eie liggaamsgewig, soos hurksitte en opstote), is goed vir cholesterolverlaging.”

*Onthou asb. dat nuwe navorsing voortdurend gedoen word en dat selfs kenners dinge soms verkeerd kan kry. Ek moedig jou aan om self krities te dink oor alles wat jy lees en ook oor wat hier geskryf word.

LEES OOK: Dieetsake - Jou kind en kos